Martin Auer
Die Vreemde Oorlog
Stories vir 'n Kultuur van Vrede

Die Dromer

Vertaling deur Santa Botha

Eendag was daar 'n man wat baie drome gehad het. Hy het byvoorbeeld geglo dat daar 'n manier moes wees om 10 000 kilometer ver na dinge te kon kyk. Of daar moes 'n manier wees om sop met 'n vurk te kon eet. Hy het gedink dat daar 'n manier moes wees vir mense om op hulle koppe te kon staan en hy was oortuig daarvan dat daar 'n manier moes wees vir mense om sonder vrees te lewe.

Mense het vir hom gesê: " Niks van hierdie dinge kan gedoen word nie; jy is 'n dromer!" En daarby: "Dis tyd dat jy jou oë oopmaak en die werklikheid aanvaar!"  Of die volgende: "Is jy bewus daarvan dat daar natuurwette is en dat jy dit nie net sommer kan gaan staan en verander nie?"

Maar die man het net gesê: "Ek weet nie....daar moet 'n manier wees om onder water te kan asemhaal. En daar moet 'n manier wees om vir almal iets te gee om te eet. Daar moet 'n manier wees om vir almal te laat onderrig in die dinge waarin hulle belangstel. Daar moet 'n manier wees om binne-in jou eie maag te kan kyk."

En weer het die mense gesê: "Jy sal jouself moet regruk, meneer; daardie dinge sal nooit gebeur nie. Jy kan mos nie sommer net sê dat jy iets wil hê en dan verwag dat dit dadelik moet gebeur nie. Die wêreld is nie gemaak om so te werk nie, en dis maar hoe dit is!"

Toe televisie en x-straal-masjiene uitgevind is, kon die man 16 000 kilometer ver sien en is hy ook in staat gestel om binne-in sy eie maag te kon kyk. Maar niemand het vir hom gesê: "Nou maar goed, dit lyk of jy toe nie so ver verkeerd was op die ou end nie." En hulle het niks te sê gehad toe duikpakke ontwerp is wat mense makliker onder die water laat asemhaal het nie. Maar die man het vir homself gesê: "Dit was nes ek gedink het. Dalk sal dit selfs eendag moontlik wees om met mekaar oor die weg te kom sonder om oorlog te maak."

Die Blou Seuntjie

Vertaling deur Santa Botha

Ver, ver weg....anderkant die sterre, is dinge baie anders as hier. En nog verder daarvandaan is dinge nog meer anders as daar, waar alles baie anders is as hier. Maar as jy ver weg kon gevlieg het....baie, baie, baie ver weg van alles af, na 'n plek toe waar alles heeltemal anders is as op enige ander plek, sou dit daar dalk presies dieselfde as hier gewees het.

Miskien is daar, in hierdie verafgeleë streek, 'n planeet wat so groot soos ons Aarde is en miskien lewe daar mense op hierdie planeet wat amper presies net soos ons lyk, behalwe dat hulle blou is en dat hulle hullle ore kan opvou as hulle nie na iets wil luister nie.

Dalk het daar vantevore 'n oorlog uitgebreek op hierdie planeet wat die dood van baie blou mense tot gevolg gehad het. Baie weeskinders is agtergelaat.  In die ruïnes van een van die huise wat deur bomme verwoes is, het 'n klein blou seuntjie gesit en huil  omdat hy sy vader en moeder verloor het. Vir 'n lang ruk het hy so gesit en huil totdat hy nie meer trane gehad het om te huil nie. Hy het sy kraag opgelig, sy hande in sy sakke gesit en weggeloop. Elke keer wanneer hy 'n klip gesien het, het hy daarna geskop en wanneer hy 'n blom gesien het, het hy daarop getrap.

'n Klein hondjie het na hom toe aangekom, vir hom gekyk en sy stertjie begin waai. Toe het die hondjie omgedraai en langs die seuntjie gaan loop, so al asof hy besluit het om die seuntjie geselskap te hou.

"Gaan weg!" het die seuntjie vir die hond gesê. "Jy moet weggaan. As jy by my bly, sal ek vir jou moet lief wees en ek wil nooit weer vir iemand lief wees in my hele lewe nie."

Die hond het vir hom gekyk en sy stertjie vrolik gewaai. Net toe het die seuntjie op 'n geweer afgekom wat langs 'n dooie soldaat gelê het. Hy het die geweer opgetel en dit vir die hond gewys. "Hierdie geweer kan jou doodmaak!" het hy vies gesê. Die hond het toe maar weggehardloop.

"Ek sal jou saam met my vat!" het die seuntjie vir die geweer gesê. "Jy sal my goeie vriend wees." Hy het die geweer gevat en 'n skoot afgevuur na 'n dooie boom toe.

'n Rukkie daarna het hy op 'n skopfiets afgekom wat net so in 'n veld gelos is. Hy het daarop geklim en met dit begin ry.

"Nou het ek 'n geweer en 'n skopfiets," het die seuntjie gesê. "Hulle sal my familie wees. Ek kon 'n hond ook gehad het, maar hy mag dalk doodgemaak word en dan sou ek doodgegaan het van al die huil."

Hy het rondgejaag op sy skopfiets totdat hy 'n huis gesien het waarby daar rook uit die skoorsteen gekom het. "Iemand bly nog daar," het die seuntjie gesê. Hy het rondom die huis gery en by al die vensters ingekyk. Binne-in die huis was daar net 'n ou vroutjie wat besig was om iets te kook.

Die seuntjie het sy skopfiets voor die huis neergesit, sy geweer gevat en in die huisie ingegaan.

"Ek het 'n geweer!" het hy vir die ou vroutjie gesê. "Jy moet vir my iets gee om te eet!"

"Kom maar nader, ek sou in elk geval vir jou iets gegee het om te eet," het die ou vroutjie gesê. "Jy kan maar jou geweer gaan bêre."

"Ek wil nie hê jy moet goed wees vir my nie!" het die seuntjie kwaai gesê. "My geweer kan jou doodmaak!"

Nadat die ou vroutjie toe vir hom kos gegee het, het hy weer weggery.

Dit was hoe die seuntjie nou gelewe het. Hy het vir homself 'n wegkruipplek in 'n verlate huis gemaak. Wanneer hy honger geword het, het hy op sy skopfiets na plekke toe gery waar daar mense was. Daar het hy mense met sy geweer gedwing om vir hom iets te gee om te eet.

Op ander dae het hy oor die verlate oorlogsvelde gejaag met sy skopfiets en dele van wapens en oorlogsvoertuie bymekaargemaak wat net so daar gelos is.  Al hierdie goed het hy na sy wegkruipplek toe gevat.

"Ek sal 'n reuse gewapende robot bou!" het hy vir homself gesê. "Dit sal 100 meter lank wees en dit sal 100 000 ton weeg. Heel bo in sy kop sal ek my kontroles in 'n kajuit hê. Dan sal ek baie mag hê en niemand sal iets aan my kan doen nie."

Op 'n dag het daar 'n meisie by sy wegkruipplek aangekom. Die seuntjie het buitentoe gegaan met sy geweer en gesê: "Jy moet weggaan. My geweer kan jou doodmaak!"

"Haai, jong, ek bedoel nie om jou te pla nie," het die meisie gesê. "Ek het maar net kom kyk of die sampioene nog nie begin groei het nie."

"Jy moet weggaan!" het die seuntjie gesê. "Ek wil niemand by my hê nie!"

"Is jy heeltemal alleen?" het die meisie gevra.

"Nee," het die seuntjie gesê. "Ek het 'n geweer en 'n skopfiets. Hulle is my familie. En eendag sal ek 'n reuse gewapende robot ook hê!"

"Het jy nie iemand van vlees en bloed by jou nie?"

"Ek kon 'n hond gehad het. Maar as iemand dit sou doodgeskiet het, sou ek ook doodgegaan het van al die huil."

"Ek het ook nie eintlik iemand nie," het die meisie gesê. "Ons kan saambly."

"Ek wil nie iemand hê wat deur 'n geweer doodgemaak kan word nie!"

"Wel, dan moet jy maar net iemand kry wat nie deur 'n geweer doodgemaak kan word nie!" het die meisie gesê en weggeloop.

Die seuntjie het uiteindelik sy reuse gewapende robot gebou en ingeklim toe dit klaar was. Hy het heel bo in die robot se kop gaan sit waar die kajuit met die kontroles in was. Toe het hy deur die land begin ry in sy reuse gewapende robot.

Orals het die mense begin skree as hulle hom gesien aankom het en wou hulle weghardloop. Maar hulle kon nie wegkom van die reuse gewapende robot af nie.

Die seuntjie het 'n mikrofoon in die kontrole-kajuit gehad en alles wat hy deur die mikrofoon gesê het, het brullend by die robot se mond uitgekom. "Is daar enigiemand hier wat nie deur 'n geweer doodgemaak kan word nie?" het die robot gegil. Maar oral het die mense net weggehardloop van hom af en het hy nooit iemand opgespoor wat nie deur 'n geweer doodgemaak kon word nie.

Op 'n dag het hy egter bo vanuit sy kajuit waar hy gesit het gesien dat daar iemand daaronder was wat nie van hom af weggehardloop het nie, maar net daar gestaan het en iets na hom toe geskree het. Maar hy was so hoog bo die grond in sy robot dat hy nie kon verstaan wat die persoon sê nie.

"Miskien is dit iemand wat nie deur 'n geweer doodgemaak kan word nie," het die seuntjie gedink en uit die robot geklim. Maar dit was dieselfde ou vroutjie wat vir hom 'n rukkie terug kos gekook het. "Wou jy iets vir my gesê het?" het die seuntjie gevra.

"Ja," het die ou vroutjie gesê. "Ek het gehoor van iemand wat nie deur 'n geweer doodgemaak kan word nie. Ek het gedink ek moet jou sê."

"En wie is dit?" het die seuntjie gevra.

"Hy is 'n ou man wat daar bo in die maan bly."

"Dan sal ek hom moet gaan soek," het die seuntjie gesê, "want ek wil nie iemand by my hê wat deur 'n geweer doodgemaak kan word nie." Hy het toe 'n knoppie gedruk en die volgende oomblik het sy reuse gewapende robot verander in 'n reuse gewapende vuurpyl waarmee hy na die maan toe gevlieg het.

Daar bo op die maan moes die seuntjie baie lank soek. Uiteindelik het hy tog die ou man gekry. Hy het agter 'n teleskoop gesit en afkyk op die blou planeet.

"Is jy die man wat nie deur 'n geweer doodgemaak kan word nie?" het die seuntjie vir die ou man gevra.

"Ja, wel, ek dink so," het die ou man gesê.

"En waarna kyk jy deur jou teleskoop?"

"Ek is besig om die inwoners van die blou planeet te bestudeer."

"Dink jy ek kan hier by jou bly?" het die seuntjie gevra.

"Miskien," het die ou man gesê. "Wat maak my so besonders?"

"Omdat ek nie by iemand wil bly wat deur 'n geweer doodgemaak kan word nie. Toe my ouers oorlede is, het ek al die trane gehuil wat ek in my gehad het. Ek kon 'n hond gehad het, maar as iemand dit sou doodmaak, sou ek doodgegaan het van die huil. Ek kon ook by 'n ou vroutjie of by 'n klein meisietjie gebly het. Maar hulle was nie bestand teen koeëls nie en as hulle doodgemaak sou word, sou ek doodgegaan het van die huil oor hulle."

"Dis alles in orde," het die ou man gesê, "jy kan maar hier by my bly. Niemand kan my doodskiet nie, want hier is nie gewere hier nie."

"Is dit al?" het die seuntjie gevra.

"Ja, dit is," het die ou man gesê.

"Maar ek het my geweer saam met my gebring."

"Dis nou baie jammer," het die ou man gesê, "nou kan jy nie by my bly nie. Jou geweer kan my doodmaak."

"Sal ek dan moet teruggaan?" het die seuntjie gevra.

"Ja," het die ou man geantwoord.

"Agge nee," het die seuntjie gesê.

"Wil jy nie weggaan nie?" het die ou man gevra.

"Mm - nee," het die seuntjie gesê. "Ek sou baie graag hier wou bly."

"Dalk kan jy jou geweer weggooi," het die ou man gesê.

"Miskien," het die seuntjie geantwoord.

"En dan kan jy mos by my bly," het die ou man gesê.

"Miskien," het die seuntjie geantwoord. "Wat sal ek daarna moet doen?"

"Jy kan deur hierdie teleskoop kyk. Dan sal jy dalk agterkom hoekom die mense daar onder altyd besig is om oorlog te maak."

"En hoekom maak hulle dan oorlog?"

"Wel, dit weet ek ook nie. Ek veronderstel dit het iets te doen met die feit dat hulle nie genoeg van mekaar af weet nie. Daar is so baie van hulle en hulle lewens is so ingewikkeld dat hulle nie besef hoe 'n groot invloed hulle gedrag op ander kan hê nie. Ek neem aan dat hulle nie weet waar die vleis wat hulle eet, vandaan kom nie, of waarheen die brood wat hulle bak, gaan nie. Ek veronderstel dat hulle nie seker is of die metaal wat hulle van onder uit die aarde opgrawe gebruik moet word vir stootskrapers of vir kanonne nie. Dalk is hulle nie daarvan bewus dat die vleis wat hulle besig is om te eet, ook besig is om weggevat te word van ander mense af nie. As hulle hulself maar net van hier bo af kon gesien het, sou hulle dinge dalk baie beter kon verstaan het.

"Maar dan moet iemand dit seker vir hulle gaan leer," het die seuntjie opgemerk.

"Miskien," het die ou man gesê, "maar ek is te oud en te moeg daarvoor."

Met hierdie woorde het die seuntjie sy geweer laat val, en dit het deur die ruimte geval tot onder op die planeet, waar dit in fyn stukkies gebreek het.

Die seuntjie het vir baie jare by die ou man op die maan gebly terwyl hy deur die teleskoop gekyk en die mense daaronder bestudeer het. Dalk het hy ook een dag soontoe gevlieg om aan hulle te gaan verduidelik wat hulle alles verkeerd gedoen het.

Die Eienaardige Mense van die Planeet Hortus

Vertaling deur Santa Botha

Op die planeet Hortus het daar Appelmense, Pruimmense, Peermense en Framboosmense gebly. Die Appelmense het gelewe van appelsap, appeltert, appeljellie en appelkoek. Die Pruimmense het gelewe van pruimsous, pruimtert, pruimjellie en pruimkoek. Die Peermense en die Framboosmense het maar min of meer dieselfde goed geëet.

Vir 'n rukkie het alles redelik goed gegegaan, tot op 'n dag wat die Peermense gevoel het dat hulle nou behoorlik genoeg gehad het van die alewige peerjellie. Dis toe wat een van die Peermense gesê het: "Weet julle wat? Ons behoort diewe te word!"

"Diewe? Wat is dit?"

"Dis eenvoudig. Al wat ons moet doen is om die Pruimmense in die nag te bekruip en sodra hulle almal aan die slaap is, moet ons hulle oorval en opdons. Dan vat ons vir ons soveel pruime as wat ons kan dra en hardloop daarmee weg. Dan kan ons uiteindelik ook van die pruimsous, pruimtert, pruimjellie en pruimkoek eet."

"Hoera! Dit klink na pret!"

Hulle het toe een aand die Pruimmense bekruip en toe hulle almal aan die slaap was, het die Peermense op die dorpie afgestorm, by die huise ingebreek en al die Pruimmense aangerand. Toe het hulle soveel van die pruime gevat as wat hulle kon dra en daarmee weggehardloop.

Die Pruimmense was vreesbevange en baie hartseer. "Wat was dit? Dit het nog nooit vantevore gebeur nie. Dalk het die Peermense mal geword. Ons moet vir Mev.Pruimstam na hulle toe stuur!"

Sien, Mev.Pruimstam kon salf maak van pruimpitte wat enige siekte kon genees, behalwe gebreekte bene. Op 'n dag het sy toe vertrek met haar pot vol pruimpitsalf. Teen die aand se kant het sy egter weer teruggekeer.

"Hulle wil nie gesondgemaak word nie," het sy gesê. "Hulle het gedreig om my te slaan en het my toe weggejaag."

"Dis baie slegte nuus! Wat gaan ons nou doen?"

"As hulle nie gesondgemaak wil word nie, is hulle nie siek nie, maar net sleg. Ons moet hulle straf!"

"Ja, dis wat ons sal doen! Ons sal op hulle afpeil en hulle pere vat. Dis net regverdig!"

Almal het gejuig en onbeheersd geskreeu, maar net Mev.Pruimstam het bekommerd gelyk en haar kop geskud.

So het die Pruimmense dan op die oorlogspad gegaan en daardie nag die Peermense aangeval en geslaan. Toe het húlle weer so baie pere gevat as wat húlle kon dra en daarmee weggehardloop.

"Wat gaan julle doen as die Peermense terugkom en ons môre weer aanval?" het Mev.Pruimstam gevra. Almal het baie bekommerd gelyk, maar die jong Mnr. Pit het gesê: "Ons sal net wagte rondom die dorpie plaas en as hulle dan hier aankom, sal ons hulle afransel."

En dis toe ook net wat hulle gedoen het. Toe die Peermense 'n paar aande later weer daar aankom, het hulle 'n afskuwelike afranseling gekry.

"Wel, wat het ek gesê! Hierdie keer het hulle regtig 'n groot loesing gekry! Hulle sal dit nie waag om ons gou weer te oorval nie."

"Alles goed en wel, maar weet jy wat? Ons het elke aand vir die laaste twee weke waggestaan en dan die hele dag lank geslaap. Intussen het ons al ons pruimkoek en pruimjellie opgeëet en gladnie tyd gehad om weer enigiets te kook of te bak nie!"

"Maar dan moet almal van julle vir julle ouens iets gee om te eet, aangesien hulle waggestaan het om ons almal te beveilig!"

So het al die Pruimmense toe vir die wagte iets te ete gegee, waarvan Mnr.Pit die meeste gekry het. "Omdat ek vir alles moet sorg! Ek dra die verantwoordelikheid!"

Na 'n ruk het party van die Pruimmense begin brom. Voorheen was daar altyd net genoeg vir almal, maar noudat die jong manne begin wagstaan het in plaas daarvan om die pruimbome te versorg en om om te sien na die kook- en bakwerk, was daar nie meer genoeg vir almal nie.

"Goed," het Mnr.Pit gesê, "wie se skuld is dit dat ons jong manne nie meer kan werk nie, maar eerder moet wagstaan? Die Peermense s'n! So, die Peermense moet gestraf word daarvoor!"

Saam met sy manne het hy toe afgemarsjeer na die Peermense se dorpie toe, om hulle weer te gaan beroof. Maar die Peermense het ook wagte gehad en daar het toe 'n hewige geveg plaasgevind, halfpad tussen die twee dorpies. Die Pruimmense kon toe nie die pere in die hande kry nie.

Toe het Mnr.Pit gesê: "Ons moet nette aanmekaarweef en dit oor die Peermense se wagte gooi. Dan sal ons hulle kan oorwin en die dorpie beroof!"

Toe moes al die Pruimmense nette weef en hierdie keer was die rooftog suksesvol. Baie trots het Mnr.Pit die soldate terug huistoe gelei, elkeen met 'n sak vol pere oor sy skouers. Mnr.Pit het ook iets gedra: verantwoordelikheid.

In die middel van die dorpie het Mnr.Pit vir almal gevra om hulle pere op 'n groot hoop te gooi. Daarna het hy die hoop verdeel in drie kleiner hopies. "Op hierdie manier," het hy gesê: "word een hoop verdeel tussen al die inwoners, sodat almal genoeg het om te eet. Die tweede hoop sal verdeel word tussen my soldate omdat hulle so dapper geveg het. Die derde hoop is myne omdat ek die verantwoordelikheid vir alles gedra het."

Almal was oorstelp van vreugde en het  Mnr.Pit op die skouer getik. Net ou Mev.Pruimstam het bekommerd gelyk, haar kop geskud en gesê: "En wat gaan julle maak as die Peermense ook nette weef?"

"Ek weet! Ons bou 'n muur rondom die dorpie, sodat hulle ons nooit weer kan oorval nie."

En so moes die Pruimmense toe 'n muur rondom die dorpie bou.

Maar die Peermense was nie daarmee tevrede gewees om met die skande van hulle nederlaag saam te leef nie. En toe hulle verkenners rapporteer dat die Pruimmense besig was om 'n muur om hulle dorpie te bou, het hulle ook 'n muur rondom hulle eie dorpie gebou. En hulle het nette geweef om die soldate mee te vang. Hulle het ook vir hulleself lere gemaak waarmee hulle oor die Pruimmense se mure kon klim. Een nag het hulle toe, met hulle lere, die Pruimmense se dorpie ingeval en hulle beroof van alles wat hulle gehad het.

"Dis nou genoeg! Ons sal vir hierdie sagte pere 'n les moet leer waarvan hulle nooit sal herstel nie." Mnr.Pit het toe die Pruimmense aangesê om 'n groot toring op wiele op te rig. Hy was van plan om dit tot teenaan die mure van die Peermense se dorpie te stoot, en om dan balle van vuur op die Peermense se huise te gooi. Maar, in die tussentyd het die Peermense 'n yslike katapult gebou wat hulle sou gebruik om die Pruimmense se dorpsmuur mee te verwoes.

Een nag het die Pruimmense se weermag toe die Peermense se dorpie bekruip, terwyl die Peermense se weermag besig was om die Pruimmense se dorpie te bekruip. En omdat die aand donker en mistig was, het die verskeie weermagte bymekaar verbygeloop sonder dat hulle dit opgemerk het. Nadat die Pruimmense hulle toring voor die Peermense se dorpsmuur opgerig het, het Mnr.Pit bo-op geklim en geskreeu: "Maak hierdie hekke oop en gee julleself oor, of anders steek ons hierdie hele dorp aan die brand!"

En omdat die Peermense se weermag nie daar was nie, het die dorpie se inwoners die hekke oopgemaak en die Pruimmense binnegelaat.

En toe die Peermense hulle katapult tot teen die dorpsmuur van die Pruimdorpie gestoot het, het hulle leier op 'n stukkie papier geskryf: "Gee oor of julle hele dorp sal vol lood gepomp word!" Hy het die notatjie om 'n klip gevou en oor die muur gegooi. Toe het die Pruimmense ook hulle hekke oopgemaak en die Peermense binnegelaat.

Maar toe die verskeie weermagte die dorpies wou plunder, was daar skaars enigiets oor om te vat. Net 'n paar potte peerjellie of pruimjellie, 'n paar droë koeke en 'n bietjie oorskiet-tert, maar selfs dit was al besig om te muf.

"Daar is niks oor nie," het die Peermense vir die Pruimsoldate gesê. "Ons het nie tyd gehad om na die bome om te sien  of om koek te bak nie. Die oorlog het al ons beskikbare tyd in beslag geneem."

"Ons het niks nie," het die Pruimmense vir die Peersoldate gesê. "Ons het nie tyd gehad om te kook of om na die bome om te sien nie. Die oorlog het al ons beskikbare tyd in beslag geneem."

"Rotte!" het die leier van die Peersoldate gesê en weer omgedraai.

"Verdomp!" het Mnr.Pit gesê en sy weermag weer weggelei.

Teen dagbreek het die verskeie weermagte mekaar halfpad tussen die twee dorpies ontmoet en omdat hulle so kwaad was, het hulle mekaar begin slaan. Maar die twee veldmaarskalke het nie deelgeneem aan die geveg nie. Elkeen het op 'n klein heuweltjie gestaan, mekaar vuil kyke gegee en gebroes.

Toe hulle gevoel het dat die twee weermagte nou lank genoeg baklei het, het hulle die bevel gegee om terug te val en het hulle saam met hulle eie weermag teruggemarsjeer huistoe.

Die volgende dag het Mnr.Pit die Pruimmense bymekaargeroep en gesê: "Nou goed, nou moet ons dadelik aan die werk spring en vinnig 'n paar pruimkoeke bak. Ons moet vinniger bak as die vyand, sodat ons voor hulle weer gereed kan wees vir die volgende geveg!"

Maar Mev.Pruimstam het gesê: "Ons kan dit nie doen nie. Daar is geen pruime meer oor nie, aangesien niemand die bome versorg het nie. Die pruime het almal op die grond gelê en vrot word. Daar is in elk geval ook nie meel vir die koeke nie. Ons kan nie langer daarmee aangaan om dinge op hierdie manier te doen nie. Watter betekenis het dit om mekaar te beroof? As ons genoeg wil hê om te eet, sal elkeen van ons bereid moet wees om die hele dag lank baie hard te werk. Ons sal dit moet doen en die Peermense ook. Diefstal laat nie pruime of pere groei nie. Ons sal moet vrede maak met die Peermense!"

En die Pruimmense, wat graag weer daarmee wou begin het om die pruimbome te versorg en om terte te maak, het met haar saamgestem.

Die enigste persoon wat baie omgekrap was, was Mnr.Pit. As daar nie oorlog was nie, kon hy nie bevele uitdeel en die verantwoordelikheid dra nie en sou daar ook nie enige buit wees waarvan hy die grootste deel sou kry nie.

Hy het na die dorpie van die Framboosmense toe geloop en vir hulle ges: "Luister, die Peermense het nie meer enigiets oor om te eet nie. Hulle het alles uitgegee tydens die oorlog. Daar bestaan dus die gevaar dat die Peermense julle volgende sal  beroof!"

Die Framboosmense het hulle koppe gekrap en gesê: "Ons het nog nooit iets aan hulle gedoen nie!"

"Dit maak nie saak nie," het Mnr.Pit gesê. "Hulle is diewe en sal enige plek beroof wat hulle kan."

"Dis verskriklik!" het die Framboosmense gesê. "Wat moet ons doen? Ons weet niks van oorlogmaak af nie."

"Maar ons wel!" het Mnr.Pit gesê. "Ek het 'n voorstel: gee vir ons 'n bietjie van julle frambose, dan sal ons julle beskerm teen die Peermense."

"Nou goed," het die Framboosmense gesug. "Ons het seker nie 'n ander keuse nie."

Toe het Mnr.Pit teruggekeer na die Pruimmense se dorpie toe en vir hulle gesê: "Dis omtrent nog 'n jaar voordat die volgende pruim-oes inkom! Waarvan het julle gedink om in die tussentyd van te leef? As ons vrede maak, sal ons vir 'n volle jaar lank honger wees! Maar as ons saam met die Framboosmense werk om die Peermense te beveg, sal ons dadelik frambose van hulle af kry."

"Ja, dis beter," het die jong manne geskreeu wat al klaar daaraan gewoond was om te baklei. "Ons baklei beter as wat ons pruim-oeste inbring."

Die ander Pruimmense het hulle koppe gekrap en gesê: " Om honger te wees vir 'n hele jaar! Wie kan dit uithou?" En toe het hulle ook aangesluit by Mnr.Pit.

Net Mev.Pruimstam het bekommerd gelyk en maar net haar kop geskud.

Maar intussen het die Peermense se veldmaarskalk 'n vriendkap gevorm met die Appelmense. En so het alles maar net weer van vooraf begin: die Framboos- en Appelmense moes nou ook mure om hulle dorpies bou, en nette weef, en katapulte en beleërings-torings op wiele bou. Afgesien van al hierdie dinge moes hulle nog vir hulle beskermers die helfte van hulle vrugte ook gee. Toe die jaar verby was, was daar op die hele planeet niks meer oor om te eet of te steel nie.

Toe het Mev.Pruimstam al die vrouens op die planeet bymekaargeroep - dit was moontlik want daar was maar net vier dorpies - en vir hulle gesê: "Ons kan nie voortgaan om so te lewe nie. Diefstal en oorloë laat nie pruime, frambose, appels of pere groei nie. Iemand moet die werk doen anders sal daar nie eers iets wees om te roof nie. En omdat ons almal gewoonlik net genoeg het as elkeen sy of haar bydrae lewer, kan ons net eenvoudig nie al hierdie diefstal bekostig nie! Mens kan nie nette, lere, katapulte, mure of beleërings-torings eet nie!"

"Net so!" het die vrouens beaam.

"So, gaan sê vir julle mans dat hulle vir mekaar die hand moet gee en onmiddellik moet teruggaan na die boorde toe! Anders sal ons almal binnekort doodgaan van die honger!"

"Ons maak so! het die vrouens gesê.

So is daar uiteindelik 'n ooreenkoms bereik. Die mans het almal bladgeskud met mekaar en gemompel: "Ek is baie jammer, dit sal nie weer gebeur nie." Toe was daar weer vrede op die Planeet Hortus. Na twee, amper drie jaar, het almal weer genoeg gehad om te eet. Mev.Pruimstam het geskenkies gemaak van potjies pruimjellie vir die ander dorpies en die vrouens van die ander dorpies het vir mekaar appelkoek of peersous of framboostert gestuur.

En omdat vrede vir so 'n lang tydperk geduur het, het die mense nou tyd gehad om 'n bietjie na te dink en om dinge te ontwerp. Een persoon het 'n spesiale tangetjie ontwerp waarmee mens die appels van die bome af kon pluk, sonder om in die boom te klim. 'n Ander persoon het 'n variëteit van framboosbosse ontwikkel wat nie dorings gehad het nie. Nog 'n ander een het 'n spesiale mes uitgevind om pere mee af te skil.

"Dit is wonderlik," het die vrouens gesê, "nou hoef ons net 'n halwe dag lank te werk vir ons almal om nogsteeds genoeg te hê van alles."

Maar een dag het Mnr.Pit opgestaan en vir die Pruimmense gesê: "Wat nou hier aangaan, is gladnie goed nie. Mense lê vir 'n halwe dag lank en niks doen nie  net omdat ons werk makliker geword het met die uitvinding van die nuwe pruim-ontpitter. Wat gaan ons maak as die Peermense besluit om ons te oorval en ons dan dwing om die res van die dag vir hulle te werk? Die Peermense het 'n nuwe peer-afskiller ontwerp. Dit maak die gevaar soveel groter, want as hulle nie meer nodig het om die hele dag lank te werk om te sorg dat daar elke dag genoeg kos is nie, dan sal hulle mos nou oorgenoeg tyd hê om nuwe beleërings-torings en katapulte te bou! Ons kan dus regtig nie bekostig om 'n halwe dag te mors met kaartspeletjies en storievertellery nie. Met die nuwe pruim-ontpitter het ons nou genoeg tyd om te dink aan 'n verdedigings-strategie. In plaas daarvan om net 'n halwe dag te werk, sal dit beter wees as net die helfte van ons vir 'n daglank werk. Die res kan katapulte bou en tyd deurbring in opleidingssessies. Op hierdie manier sal ons dit kan bekostig om 'n aktiewe weermag te onderhou. Dit is die enigste manier om onsself te beskerm teen nog 'n aanval van die Peermense, wat daarop uit is om eendag van ons slawe te maak!"

En so sou die hele ding amper weer van vooraf begin het, as..

...Mev.Pruimstam nie opgestaan het en vir Mnr.Pit 'n taai klap gegee het waar almal dit kon sien, nie. Toe het hy mooi rustig gaan sit en nooit weer 'n woord gesê nie.

Arobanai

Vertaling deur Santa Botha

Arobanai het haar kop opgelig uit die water in die rivier. Voor haar het Apa Lelo in die middagsonnetjie gelê. In die verte kon 'n mens donderweer hoor, maar die reën sou eers heelwat later kom. Dit het genoeg tyd toegelaat vir die bou van hutte. Die kinders was al klaar besig om te speel in die grasserige oopte - hier en daar het bondeltjies in die gras gelê. Die mans, wat reeds vroeër daar was, het die bondels op die plekke laat lê waar hulle hulle hutte gebou wou hê en toe afgesit om te gaan jag. Die vrouens wat kinders gehad het, het vir hulleself meer tyd toegelaat gedurende die reis, omdat hulle sampioene en boomwortels wou bymekaarmaak langs die pad. Arobanai het haar liggaam skoongevryf in die water. Dit was heerlik om in 'n nuwe kamp te kon inloop en om al die stof en sweet van die trek en van al die vorige kampe te kon afwas. 'n Nuwe kamp was altyd 'n nuwe begin, vol nuwe moontlikhede en vooruitsigte. Sy het die water uit haar kort, krullerige hare geskud en teruggeloop na die rivieroewer toe. Toe het sy haar bondeltjie hoog bokant haar kop gelig en dit so deur die rivier gedra tot by die ander kant. Sy het geweet dat, as sy haar arms op daardie manier opgetel het, haar stewige borste nog meer vorentoe gestoot het. Die rivier se water het haar liggaam laat blink en al die vorms daarvan het nog mooier gelyk as gewoonlik. Aan die oorkant van die rivier, het die eerste jong seuns uit die bos  uitgekom met hulle vangs van die dag.

Apa Lelo was die lekkerste kamp wat Arobanai geken het. Die Lelo het 'n draai gemaak op hierdie plek, wat amper van die kamp 'n eiland gemaak het. In die middel van die eiland het die bome ver vanmekaar afgestaan en 'n natuurlike oopte gevorm, maar heelbo het die bome se toppe feitlik aanmekaar geraak. Daar was dus baie lig maar nie so erg dat dit die heeltyd volle sonlig gekry het nie. Baie naby aan die middel van die eiland, het 'n groep bome die oopte verdeel in twee feitlik eweredige helftes. Die kinders het alreeds die bome op die rivieroewer opgeëis as hulle speelplek, 'n entjie verwyder van die oopte waar die hutte sou staan, maar steeds naby genoeg om veilig te wees.

Arobanai het gesoek na die bondel wat aan haar vader, Ekianga, behoort het. Haar moeder het nog nie by die kamp aangekom nie en die eerste ding wat sy gedoen het was om die bondel blare los te maak waarbinne sy 'n gloeiende vuurkool toegedraai het. Sy het 'n paar droë takkies daarop gesit en op die rooi-warm kool geblaas totdat die vlamme aan die fyn houtjies geraak het.

Geleidelik het al hoe meer mense hulle verskyning in die kamp gemaak. Van die mans het vleis saamgebring en toe weer die kamp verlaat om te gaan stokke en blare sny. Die vrouens het die vure aangesteek en begin kosmaak. Omtrent almal van hulle het sampioene en boomwortels bymekaargemaak - die kinders het armsvol daarvan saamgebring - en 'n sous is aanmekaargeslaan in die pampoenbakke waarby stukkies vleis gevoeg is.

Toe die mans teruggekom het met pale en groot bondels breë mongongo-blare, het die vrouens begin om die hutte te bou. Hulle het die pale in die vorm van 'n sirkel in die grond gedruk; daarna het hulle die punte in 'n koepelvorm bymekaargebind met slingerplantranke. Dunner takkies is in die raamwerk ingevleg en die breë, hartvormige blare is uiteindelik aan hierdie ringvormige struktuur vasgewerk. Mense wat later vertrek het of wat hulle reis onderbreek het om te gaan soek na watter lekkernye hulle ookal in die hande kon kry, het nou begin aankom. Die vrouens wat alreeds besig was om aan hulle hutte te werk het vir die aankomelinge gelag en vir hulle vertel hoe nat hulle gaan word, siende dat die reënwolke al nader en nader kom.

Maar die mans wat hulle vrouens voorsien het van boumateriale, het teruggehardloop in die bos in en vir die laatslapers gaan pale, stokke en blare sny. Families en vriende het hulle hutte naby aan mekaar opgerig. Families wat nie baie goed met mekaar oor die weg gekom het nie, het hulle aan teenoorgestelde kante van mekaar tuisgemaak en waar dit nie moontlik was nie, het hulle die hutte so gebou dat die ingange weg van mekaar af gewys het.

Die stormwolke het veroorsaak dat dit vinnig aand geword het, die vure is in die hutte ingedra en elke nou en dan moes die posisie van 'n blaar verstel word waar 'n bietjie water deur die dak gedrup het. Maar die reën het nie lank geduur nie. Die vure het gou weer buite, voor die hutte gebrand. Die vrouens het bietjie herstelwerk aan die dakke gedoen, terwyl die mans weer na die bos toe gedrentel het met hulle pyle en boë om miskien nog een voël of  aap te vang voordat dit heeltemal donker was. Rook het by die hutte uitgeborrel en 'n blou mis het oor die kamp gelê wat skielik verander het in oranje en goud en rooi toe die wolke wegtrek en die son sy laaste strale uitskiet oor die hemelruim.

Arobanai het op haar rug gelê in haar ouers se hut en haar klein broertjie aan sy een arm vasgehou, terwyl sy hom al giggelende aan sy bene opgetel het. Vanuit al die hutte kon mens hoor hoedat die families met mekaar gesels. Nou en dan het 'n ongenooide luisteraar ook iets te sê gehad wat 'n geweldige lagbui veroorsaak het.

Kenge, 'n ongetroude jong jagter, het in een van die aangrensende hutte gewoon. Baie van die jong seuns het daar saam met hom gekuier. Arobanai het gehoor hoedat hulle mekaar vertel het van al die diere wat hulle vanuit  hierdie kamp gaan jag en van die meisies met wie hulle wil flankeer. Toe sy vir Kelemoke haar naam hoor noem, het sy na hom toe geroep: "Jou bene is te krom vir my. Jy moet eers 'n jagter word, jou baba-hondjie!" Hulle het uitgebars van die lag. Die seuns het op hulle borste en heupe geslaan terwyl hulle geskud het van die lag. Kelemoke was een van die vinnigste hardlopers en het alreeds, ten spyte van alles, op sy eie 'n buffel doodgemaak.

Ekianga het, sonder om te skree, net in so 'n harde stem gesê dat dit vyf hutte ver gehoor kon word, "Mens sal 'n kopseer kry van al hierdie geskree. Laat daar nou 'n bietjie rus en vrede kom, sodat ons kan gaan slaap!" Dit het die seuns darem tot bedaring gebring. Net so nou en dan kon jy hulle nog hoor fluister en giggel. Arobanai het geglimlag. Hierdie sal 'n goeie kamp wees, het sy gedink. Sy sal baie pret hier hê.

Maar die volgende oggend was die kamp gevul met hartseer. Arobanai het wakker geword van 'n lang, uitgerekte, aaklige geskree, die ontsettende weeklag van 'n persoon wat in totale wanhoop verval het. Hulle het almal uit hulle hutte gestorm. Balekimito, een van Arobanai se vader se tantes en die moeder van Amabosu en Manyalibo, was besig om dood te gaan. Die ou vrou wat deur almal gerespekteer en 'n ouma van vele was, was alreeds siek gewees nog voordat hulle begin het om na die nuwe kamp toe te trek. Haar seuns, Amabosu en Manyalibo, wou haar nie agtergelaat het nie. Hulle wou by haar gebly het totdat sy beter was, maar hulle kon nie meer goed jag vanuit daardie kamp nie en daarby het Balekimito daarop aangedring om saam met hulle te gaan wanneer almal van plan was om te trek. Maar die trek het haar vermoei, en nou was sy besig om dood te gaan en sou binnekort dood wees vir altyd. Haar familie het saamgedrom in die hut. Haar seuns het die heeltyd op en af geloop met traanbesmeerde gesigte. Haar dogter Asofalinda het probeer om haar broers te troos, maar het self kort-kort in trane uitgebars langs die ou vrou se bed. Net Balekimo self was stil gewees te midde van die treurende, kermende skare. Sy het haar hand uitgesteek na haar seuns toe, haar dogter nader aan haar getrek en gefluister, "Ek is by my kinders. Ek sterf nie in eensaamheid nie. Dis goed."

Met oë wat nog steeds heldersiende was, het sy rondgekyk in die hut en vir Arobanai raakgesien. Sy het vir haar met die hand, 'n hand wat so deurskynend was soos 'n droë blaar, beduie om nader te kom. "Jy het mooi geword," het sy gefluister. "Het jy al vir jou 'n kêrel uitgesoek?" Sy het geglimlag en Arobanai se gewrig styf vasgegryp. Arobanai, lam van die skok, het langs die ou vrou se bed gekniel. Balekimito het aan die slaap geraak, maar nie haar houvas verslap nie. Die meisie het daar bly kniel. Die mans en vrouens het hulle gekerm laat bedaar, sodat hulle nie die ou vrou in haar slaap sou steur nie. Toe die son hoog bokant die kamp gesit het, het Balekimito opgehou asemhaal.

Nou was daar nie meer rede om kalm te bly nie. Asofalinda het skielik 'n galgtou in haar hande gehad en 'n lus om haar nek gemaak. Drie mans moes haar keer om haarself nie seer te maak nie. Kinders het in die hut saamgedrom en dan weer uitgehardloop. Hulle het hulleself op die grond neergegooi en die grond begin slaan van hulpelose woede. Die oer-oue Tungana en sy vrou Bonyo het op hulle hurke voor hulle hut gesit, met trane wat oor hulle verrimpelde wange gestroom het. Arobanai, nogsteeds lam van smart, het op 'n bondeltjie inmekaargetrek gesit in die middel van die treurende en kermende mense. Die gekerm en die gehuil sou nou nooit ophou nie, want Balekimito sou nooit weer wakker word nie. Sy was dood, nie net gewoonweg dood nie, sy was nou dood vir ewig en sou vir altyd so daar lê en vashou aan haar gewrig.

Eers toe Arobanai se moeder, Kamaikan, vorentoe geloop het en saggies die dooie persoon se vingers teruggebuig het, was Arobanai in staat om ook in trane uit te bars, op die grond rond te kruip en haar smart en angs weg te huil.

Eers teen die aand se kant het die kamp begin bedaar. Uitgeput van die hartseer het hulle almal net voor of in hulle hutte gelê. Toe het ou Moke tot in die middel van die kamp geloop en baie saggies begin praat. Mense het nader beweeg om hom beter te kon hoor, terwyl hy in sy kalm, melodieuse stem gesê het, "Dit is nie vir ons almal goed om net rond te sit en hartseer te wees nie. Die vure is besig om dood te gaan en daar is niemand wat besig is om aandete voor te berei nie. Môre sal almal honger wees en te moeg en te swak  om te gaan jag. Sy, wat vir ons almal 'n goeie moeder was, het in vrede heengegaan. Almal van ons behoort bly te wees dat sy so lank gelewe het en dat sy so 'n rustige sterfbed ervaar het." Baie het instemmend met die kop geknik hierop.

 

Manyalibo het gesê, "Ja, dis reg. Ons almal behoort bly te wees. Al hierdie getreur gaan niemand help nie. Dit moet nou ophou. Ons behoort 'n partytjie te hou. Ons moet die Molimo roep en vir die Molimo 'n fees hou."

En Njobo, die beroemde jagter wat alleen 'n olifant doodgemaak het, het gesê, "Ja, haar dood is 'n ernstige saak en ons behoort 'n groot fees te hou. Ons behoort fees te vier totdat die maan eenkeer vol was, of tweekeer, of selfs driekeer!"

Die volgende dag het twee van die jong manne van hut tot hut gegaan met 'n gooiriem wat van slingerplant gemaak was. Hulle het die lus in die hut gegooi en gewag. Die inwoners van die hut het dan 'n paar piesangs, boomwortels of stukkies droë vleis in die lus gesit. By elke hut het die jong manne hulleself gedra asof hulle die kos moes gaan vang en daaroor baklei. Vandaar af het hulle na die volgende hut toe gegaan. Nie lank nie of daar was 'n skottel vol kos bo-op 'n paal in die middel van die kamp, langs die Molimo-vuur.

Die hele dag lank het die jong manne probeer om van die Molimo 'n groot geheimsinnigheid te maak. Vrouens was nie toegelaat om die Molimo te sien nie. Die jong manne het gesê dat die Molimo gevaarlik was, 'n groot dier uit die bos, en dat net mans dit kon hanteer. Arobanai wat saam met haar meisiesvriende besig was om die binneste bas van takke uit te krap om materiaal te kry vir die maak van toue, het kwaai geprotesteer, maar 'n tante het haar net kalmpies aan die arm beetgekry, effens geglimlag en haar kop geskud. Dié aand, na aandete, het die vrouens haastig na hulle hutte teruggekeer met hulle kinders. Die ou mans, die jagters en die jong manne het om die vuur gaan sit en begin sing.

Arobanai was besig om met haar jonger broertjie te speel. Buitekant het die mans gesing. Net toe Arobanai aan die slaap wou raak, het Kamaikam liggies aan haar gestoot. In die gloed van die brandende kole kon Arobanai sien hoe haar moeder glimlag en haar na buite toe beduie het. Sy het geluister. Die mans het gesing, en saggies, sodat hulle haar nie kon hoor nie, het Kamaikam saam geneurie:

"Rondom ons is donkerte, oorweldigende donkerte.
Donkerte is rondom ons, oorweldigende, swart donkerte.
Maar as daar donkerte is,
Dan is die donkerte goed.
Donkerte is rondom ons, oorweldigende, swart donkerte,
Maar as daar donkerte is,
En die donkerte behoort aan die bos,
Dan is die donkerte goed.
"

Elke aand het die mans liedjies gesing oor die Molimo. En die vrouens het na hulle hutte toe teruggekeer en gemaak asof al hierdie dinge niks met hulle te doen het nie. As die mans gesing het, het die groot dier uit die bos hulle geantwoord. Hy het geroep met die stem van 'n buffel, met die stem van 'n bok, met die stem van 'n olifant. Hy het geroep met die stemme van voëls, luiperds en ape. En dan het die mans verder gesing en hulle liedjies om die vuur gesit en neurie. Die liedjies het van naby gekom, van ver af, uit die noorde en uit die suide.

Soms het die mans gesing tot vroeg in die môre. Elke man moes deelneem. Elke man moes die nag deurbring met eet en sing, eet en sing. As een van hulle aan die slaap sou raak, word daar gesê, sou die groot dier uit die bos hom kom opvreet.

"Dis nie vir hulle nodig om so tekere te gaan nie!" het Akidinimba skielik gesê, terwyl sy besig was om bessies te pluk saam met Arobanai en die ander meisies. "Ek weet wat dit is. Dis 'n groot pyp, 'n pyp wat gemaak is van bamboes. Hulle blaas daarin en skree en sing dan. Gister was dit Ausu wat in die bos rondgehardloop het met die pyp."

"Hy het 'n pragtige stem!" het Arobanai gesê.

"Ons is nie veronderstel om oor daardie dinge te praat nie!" het Kidaya gesê. "Vrouens praat nie oor daardie dinge nie!"

Maar snags, as die mans besig was met hulle gesingery, het Kamaikan geglimlag en saam geneurie terwyl tante Asofalinda 'n storie vertel het, "Eendag, lank gelede, het die Molimo aan die vrouens behoort. Die vrouens het toe die liedjies gesing en saam met die Molimo in die bos rondgehardloop. Die bos is goed vir ons en dit pas sy kinders op. Dis waarom ons liedjies sing vir hom, om die bos gelukkig te maak. Maar partykeer slaap die bos, en dan kan slegte dinge gebeur. Dan maak ons die bos wakker; dan gaan haal ons die Molimo sodat die bos kan wakker word en nie van sy kinders vergeet in sy droom nie."

"En hoekom hardloop die mans dan nou saam met die Molimo"?

"Ag, die mans. Hulle dink altyd hulle weet alles. Hulle sê kamstig hulle is sulke groot jagters. Net hulle weet hoe om die diere van die bos te hanteer."

En Kamaikan het geheimsinnig vir Arobanai geglimlag en vir haar gesê om geduldig te wees.

Tydens die vyfde nag van die Molimo, het Kelemoke na haar hut toe gekom. Arobanai was heeltemal uit die veld geslaan. "As jy nie saam met die mans gaan sing nie, gaan die groot dier uit die bos  jou kom opvreet!" het sy gesê en hom in sy sy gedruk met haar vinger. Kelemoke het saggies gelag. "Hoekom sal dit my wil eet? Jou ma en jou tante slaap. Jou pa is besig om te sing. Is daar 'n beter tyd vir liefde? Hoekom sal die dier uit die bos my wil eet as ons doen wat al die ander ook doen?"

Elke ander aand het Kelemoke 'n geleentheid gesoek om weg te kom van die Kumamolimo af. Arobanai het uit die huit uit gekruip en hulle het mekaar gewoonlik by die bopi ontmoet, die kinders se speelplek. Daar het hulle gegiggel en gefluister en die speletjie van die liefde gespeel. Dit was soveel meer opwindend omdat dit verbode was. 'n Seun en 'n meisie uit dieselfde jaggeselskap kon nie met mekaar trou nie. En Arobanai het geweet met wie sy wou trou. Dit was Tumba, 'n seun wat saam met Abira en Motu se groep gejag het. Maar intussen sou sy haarself amuseer met Kelemoke, die sterkste jagter onder die jong manne, wat al lankal 'n vrou kon gehad het as hy nie moes gewag het nie. Hy moes gewag het totdat 'n vroulike familielid in sy groep ryp was om te trou en totdat 'n meisie van 'n ander groep na hom toe gekom het. Dan kon hulle uitgeruil het: die vroulike familielid kon met 'n man uit die meisie se groep getrou het, en hy sou dan met die meisie kon trou. As die jagters nie op hierdie manier hulle "susters" uitgeruil het nie, sou daar een of ander tyd 'n groep sonder vrouens gewees het. Geen meisie sou vir Kelemoke nee gesê het nie, maar vir hom was Arobanai die heel mooiste. Dis hoekom hy haar gekies het. Geen ander meisie se borste was so mooi soos hare nie, met sulke slanke bene en so 'n ronde agterstewe nie. As die maan haar eendag sou seën met die bloed, sal daar altyd tyd wees om te trou.

Die volgende dag was daar 'n hewige gestry en baklei aan die gang. Sefu het aangekom, die ou moeilikheidmaker. Dit was nie dat hulle nie van hom gehou het nie, die skelm grapkas, maar hoekom het hy sy eie kamp opgeslaan, skaars vyftig tree weg van die hoofkamp af? Hy het homself as die leier van vyf families beskou. Hoe kon vyf families 'n jagtog organiseer? "Dit gaan dieselfde wees as laas," het Asofalinda, Ekianga se suster gesê. "As hy iets nodig het, sê hy altyd hy hoort by ons kamp, maar as hy iets het waarvan ons hou, dan sê hy hy het maar net vinnig hier verbygekom." Sy het Sefu se kermende stem nagemaak. Toe die gelag bedaar het, het Masisi, wat familie was van Sefu, gesê, "Dis altyd goed om baie jagters en baie nette te hê." "Ja, en baie eters ook!" het Asofalinda kwytgeraak.

Op die ou end is Asofalinda reg bewys. Sefu het nie baie gereeld iets gegee vir die Kumamolimo, die skottel met kos wat elke dag volgemaak moes word nie. "Dis nie my Molimo nie," het hy deur die loop van die dag gesê. Maar die kere wat hy wel iets gegee het, of eerder, wanneer iemand uit sy kamp iets gegee het, het Sefu gekom en enorme porsies kos verorber. Sodra hy dan versadig was, het hy 'n bietjie gesing en dan met die eerste geleentheid wat hy kon kry na sy hut toe verdwyn.

"As hy homself nie gedra nie," het die jong mans gedreig, "sal ons na sy hut toe gaan en as ons hom aan die slaap kry, sal ons hom met ons spiese teen die grond vassteek en wanneer hy dood is vir altyd, sal ons hom onder die Molimo-vuur gaan begrawe. Ons sal vir sy vrou sê dat die dier uit die bos hom opgevreet het en daarna sal niemand ooit weer van hom praat nie."

Maar soos wat dit gewoonlik gaan, het hierdie dinge maar net dreigemente gebly en Sefu het gesê, "Hoekom kan ek nie gaan slaap as ek moeg is nie? Niemand sal so dierlik wees om 'n moeë man van sy slaap te weerhou nie. Afgesien daarvan is hierdie Molimo nie my Molimo nie. Ek gaan net soontoe uit ordentlikheid en om my eer te bewys aan die Molimo en nou word ek met spiese gedreig!"

Dit het egter wel gebeur dat die Molimo in die oggende met hom geraas het. Die Molimo het gewoonlik soggens na die kamp toe gekom. Hy het na die kamp toe gekom, so dig omring deur die jong mans, dat mens hom nie kon sien nie. Die jong mans het heen en weer met hom gehardloop tussen al die hutte deur, terwyl hulle op die dakke van hutte geslaan het van mense wat hulle gedink het hulle om een of ander die rede die vorige dag sleg gedra het. Die seuns het op die dakke geslaan en die mure geskud. Sefu se hut is baie rondgeskud, en so ook die hutte van paartjies wat lawaaierige argumente gehad het, van jagters wat nie gereeld gaan jag het nie, van meisies wat te openlik geflankeer het met seuns wat aan hulle verwant was. Die Molimo het niemand gerespekteer nie. Diegene met wie hy geraas het, moes die teregwysing maar net aanvaar.

Die dae in Apa Lelo was gelukkige dae. Arobanai het gereeld saamgegaan op die jagtogte. Saans het die mans gewoonlik besluit waar hulle die volgende dag sou gaan jag. Die mans en die seuns het vertel van spore wat hulle deur die dag gesien het en dit dan vergelyk met die kanse wat hulle sou hê om wild op daardie plekke te kry. Die vrouens het ook hulle opinies uitgespreek, veral ten opsigte van die bosvrugte wat hulle wou bymekaarmaak voor en na die jagtog. Die eerste groep jong mans het net na sonsopkoms vertrek met hulle nette en spiese en 'n gloeiende stukkie houtskool om die vuur vir die jag mee aan die gang te kry. Vuur was die bos se grootste geskenk en mens moes die vuur op 'n manier teruggee aan die bos. Dan sou die bos in 'n goeie bui wees en sy kinders seën met 'n geslaagde jagtog. Toe die vuur vir die jag gebrand het, het van die ander jagters ook begin aankom. Die vrouens en kinders het in die bos ingegaan om te gaan sampioene en bessies bymekaarmaak. Hulle het ook van die rankplante in die bos gevolg tot hulle by die plante se wortels uitgekom het. Hierdie wortels was soet en baie lekker om te eet.

Een oggend, toe die jagters bymekaargekom het, was Sefu nie daar nie. Hulle het gedink dat hy die kamp verlaat het, maar hy het nog nie verby hulle vuur geloop nie. Hulle het hulle koppe geskud en iemand het die opmerking gemaak dat hy dalk sy eie vuur gaan maak het, iewers anders. Nee, het hulle almal gesê, nie eers Sefu sal so iets doen nie. Toe hulle by die plek aangekom het waar hulle eerste die nette wou oopgooi, was Sefu alreeds daar. Hy het klaar 'n vuur aangesteek en was besig om geroosterde piesangs te eet. Ekianga en 'n paar van die ander mans het vinnig die area gaan verken en toe vir die ander gewys in watter rigting om die nette oop te gooi. Die vrouens het hulle bondels gevat en saam met die kinders vooruit geloop. Almal het opgehou skerts en klets en feitlik geluidloos deur die bos beweeg. Die mans het ook uitgesprei; almal het presies geweet waar hy sy net, wat meer as 100 tree lank was, moes oopgooi. Saamgegooi sou al die nette dan 'n groot halwe sirkel gevorm het. Toe Ekianga die teken gegee het met die roep van 'n koedoevoëltjie, het die vrouens en kinders in 'n lang ry agtermekaar al skreeuende en gillende deur die bos gestorm. Arobanai het 'n sondu opgejaag. Die verskrikte bok het uit die bosse gespring. "Sy sal haar vashardloop in Kelemoke se net," het sy vrolik uitgeroep vir Kidaya, wat langs haar gehardloop het.

Teen die tyd wat hulle teruggekom het by die jagters, het Kelemoke alreeds die bok doodgemaak. Sy ma was besig om die beste stukke vleis in haar mandjie te sit. Die ander vrouens het om die twee saamgedrom, "My man het vir jou sy spies geleen!" - "Ons het vir jou susters lewer gegee toe hulle honger was en jou pa nie by die huis was nie!" - "My pa en joune het altyd saamgejag!" het hulle geskreeu. Kelemoke het sy rol baie geniet en met 'n grootse gebaar het hy die vleis onder die vrouens verdeel, sonder om veel aandag te gee aan hulle redes. Hy het alreeds geweet wie verdien wat.

Sefu het nadergekom en gekerm dat hy nie 'n vangs gemaak het nie. Maar niemand het aangebied om iets met hom te deel nie. Hy het na die vrouens toe gedraai, "Julle jaag die wild doelbewus weg van my net af. Hoekom jaag julle dit nie na my kant toe ook nie?"

"Hei, jy het jou eie vrouens. Gaan kla by hulle!"

"O, hulle. Hulle is maar 'n lui spul."

Die vrouens het net vir hom gelag en hulle skouers opgetrek.

Kelemoke het vir Arobanai se ma 'n besonder lekker stuk vleis gegee uit die bok se dy. Arobanai was alreeds oppad terug na die kamp toe met haar mandjie vol vleis en neute. Sy was van plan om weer terug te gaan wanneer die jagters hulle nette vir die derde keer sou oopgooi. Sy het saam met Kidaya geloop wat haar baie uitgevra het oor Kelemoke, maar sy het net gelag en suggestiewe voorstelle gemaak. Oppad het hulle vir ou Moke raakgeloop. Hy het blykbaar luiperdspore iewers raakgesien. "Die mans sal bang word as hulle daardie spore sien!" het hulle al giggelende geskree. Arobanai het afgebuk en die gegrom van 'n luiperd nagemaak. Die ander vrouens het nou 'n ry gevorm, asof hulle die jagters was wat in enkelgelid deur die bos beweeg het. Die "luiperd" het hulle bespring en die "jagters" het al gillende tussen die bome ingehardloop.

Nadat hulle hulleself omtrent doodgelag het, het Arobanai besluit om terug te gaan na die jagters toe in die bos. Maar die mans het vroeër teruggekom van die jagtog af as wat hulle verwag het, knorrig en verslae. Niemand wou sê wat gebeur het nie. Net Kelemoke het gebrom, "Daardie Sefu. Hy maak heeltemal te veel geraas!" En Kenge het gesê, "Tot nou toe het ons hom altyd soos 'n man behandel, maar hy is 'n dier, en ons behoort hom soos een te behandel!" In dieselfde asem het hy ook na Sefu se kamp toe geskree, "Dier, dier!", alhoewel Sefu nog nie eers daar was nie.

Hy het later saam met 'n groep ouer jagters aangekom. Sonder om met enigiemand te praat, het hy reguit na sy kamp toe gegaan.

Ekianga en Manyalibo, wat heel laaste in die kamp aangekom het, het by die Molimo-vuur gaan hurk. "Daardie Sefu het oneer oor ons almal gebring!" het Ekianga ingedagte gesê. En Manyalibo het beaam, "Sefu het oneer gebring oor die Kumamolimo. Ons moet die Kumamolima laat opbreek. Die Molimo-fees moet stopgesit word. Die beste ding vir ons om nou te doen, is om na 'n nuwe kamp toe te trek."

"Laat almal hiernatoe kom," het Ekianga gesê. "Almal moet hier na die Kumamolimo toe kom. Dit is 'n baie ernstige saak hierdie. Dit moet nou dadelik reggestel word!"

Almal het bymekaargekom. Hulle het op stoeltjies gesit wat gemaak is van vier kort takke wat aan 'n stomp vasgemaak is. Kenge het weer na die ander kamp toe geskree, "Hei, jou dier, kom hiernatoe, dier!" Die seuns het gelag, maar die mans het hom geïgnoreer.

Sefu het nader gedrentel terwyl hy probeer het om heeltemal onskuldig te lyk. Hy het rondgekyk, maar niemand het vir hom 'n stoel aangebied om op te sit nie. Hy het oorgeloop na Amabosu toe, een van die jongste seuns, en aan sy stoel geruk. "Diere moet op die grond lê!" het Amabosu gesê.

Sefu was na aan trane, "Ek is 'n ou jagter en 'n goeie een daarby. Dit is nie reg dat almal my soos 'n dier behandel nie."

Uiteindelik het Masisi vir Amabosu gevra om op te staan en sy stoel vir Sefu te gee.

Toe het Manyalibo opgestaan en begin met 'n lang toespraak: "Almal wil hê hierdie kamp moet 'n lekker kamp wees. En almal wil ook hê dat die Molimo-fees 'n lekker Molimo-fees moet wees. Maar Sefu is besig om alles te bederf. Die kamp is nie meer 'n lekker kamp nie en die fees is ook nie meer lekker nie. Toe sy dogter dood is, was hy baie bly om ons aanbod te aanvaar om die Molimo vir hom te gaan haal. Maar noudat sy moeder dood is, wil hy niks vir die Kumamolimo gee nie."

"Dit was nie my moeder nie," het Sefu uitdagend gesê.

"Nie jou moeder nie?" het Ekianga geskree. "Sy was ons almal in hierdie kamp se moeder. Ek hoop jy val eendag in jou eie spies en sterf soos 'n dier! 'n Mens steel nie sy broers se vleis nie. Net 'n dier sal so iets doen!" Ekianga het sy vuis woedend in die lug geskud.

Sefu het begin huil.  Nou het Arobanai vir die eerste keer uitgevind wat gebeur het.  Tydens die tweede jagtog het Sefu sy net voor dié van die ander gesit en op hierdie manier die eerste wild gevang wat die jagters opgejaag het.  Maar hy is uitgevang.  Nou probeer hy verskoning maak en sê dat dit net 'n misverstand was.  Die ander jagters was nie meer binne sy sig nie en hy kon hulle nie weer opspoor nie.  Dit was die enigste rede waarom hy sy net maar daar oopgegooi het waar hy was. 

"Ja, ja," het ou Moke gesê. "Ons glo jou. Dis nie nodig dat jy so 'n bohaai maak daarvan nie. Ons moeder wat onlangs oorlede is, is nie jou moeder nie. So, jy hoort nie hier nie. Jy kan jou net gaan oopgooi net waar jy wil en gaan jag net waar jy wil en jou kamp gaan opslaan net waar jy wil. Ons sal ver weggaan en op 'n ander plek vir ons 'n nuwe kamp gaan maak, sodat ons jou nie sal pla nie."

Sefu moes aan homself erken dat hy 'n fout gemaak het. Hy sal nooit 'n aandrywery van die wild kan organiseer met net 'n groep van vier families nie. Hy het om verskoning gevra en gesê dat dit regtig maar net 'n misverstand was, maar dat hy nogsteeds al die vleis sal teruggee.

"Dan is dit alles reg," het Kenge gesê en dadelik opgestaan. Die ander het ook opgestaan en saam met Sefu na sy kamp toe teruggeloop. Daar het hy sy vrou bars beveel om al die vleis op te gee. Die jong manne het in al die hutte gaan krap, op soek na vleis wat moontlik weggesteek was onder die dakke. Selfs die kookpotte is leeggemaak. Sefu het probeer huil, maar almal het hom net uitgelag. Hy het sy maag vasgehou en inmekaargetrek, "Ek gaan sterf van die honger en my gesin ook. Al my familielede gaan sterf omdat my broers besig is om al my vleis weg te vat. Ek gaan sterf omdat niemand my met die respek bejeën wat my toekom nie."

Hulle het hom maar laat voortbabbel en teruggekeer na die Kumamolimo toe. Die fees was hierdie keer weer 'n fees, en almal het gesing en gedans en geëet.  In die verte kon hulle vir Sefu hoor kla. Die vrouens het hom uitgeskel en sy geklaery nageaap. Maar nadat almal geëet het, het Masisi 'n kookpot volgemaak met vleis en sampioensous wat sy vrou gaargemaak het en verdwyn. Kort daarna het die gekla opgehou.

Snags wanneer Arobanai uit haar hut gekruip het om vir Kelemoke te gaan ontmoet, het sy vir Sefu by die mans rondom die Molimo-vuur gesien sit en sing. 'n Kind van die bos soos al die ander. Arobanai het al baiekeer sulke dinge beleef. Hulle het met mekaar gestry, by mekaar gekla en mekaar gedreig. Maar die kinders van die bos het mekaar nodig gehad. Op hulle eie, sonder die ander, kon niemand van hulle oorleef nie. Dis hoekom daar altyd op die ou end 'n oplossing was vir alles, 'n uitweg. Wie ook al 'n klagte gehad het, het in die middel van die kamp gaan staan en begin protesteer, vloek of luidrugtig sy of haar saak gestel. Maar dit het dikwels gebeur dat die kamplede op wie daar staatgemaak is vir ondersteuning, nie hulle rug gedraai het op dié wat verkeerd was nie, maar wel op dié wat die meeste lawaai gemaak het. 'n Goeie kamp was 'n rustige kamp. 'n Kamp wat gedurig luidrugtig aan die baklei was met mekaar, was ook 'n honger kamp. Dikwels het harde gelag onder mekaar dikwels 'n dispuut opgeklaar. 'n Persoon wat verneder is, is vinnig vergewe. Arobanai kan onthou toe haar Tante Kondabate met haar man baklei het. In haar woede het sy begin om blare van haar hut se dak af te ruk. Dit was haar reg. Na alles, het sy tog die hut gebou. Haar man het maar net in stilte toegekyk. Sy het voortgegaan om nog meer blare van die hut af te ruk. Op hierdie stadium moes haar man eintlik nadergekom het en vrede gemaak het met haar, want as 'n vrou besig was om die hut af te breek, was dit 'n teken dat die huwelik beëindig is. Maar Kondabate se man het niks gesê nie en so het sy dan aangehou om die hut blaar-vir-blaar af te breek. Trane het alreeds begin om oor haar wange te stroom, maar die man het ferm gebly in sy besluit. Na 'n ruk het hy net gesê, "Kondabate gaan nogal koud kry vanaand." Toe moes sy voortgaan om die hut af te breek. Wat kon sy anders doen? Sy kon haarself nie op hierdie manier blootstel aan vernedering nie. Uiteindelik was daar toe nie meer enige blare oor nie en al huilende het sy toe aan die pale begin trek.  Nou het almal vasgenael gestaan en kyk, want as sy die laaste pale uit die grond getrek het, sou sy haar bondel moes bymekaarmaak en teruggaan na haar ouers se kamp toe. Kondabate se man was ook na aan trane omdat hy baie lief was vir haar en definitief nie 'n egskeiding wou gehad het nie. Maar as hy nou sou ingee, sou hy die bespotting van sy vriende vir dae lank moes verduur. Almal kon die ratte in sy brein sien draai soos wat hy besig was om aan 'n plan te dink. Uiteindelik het hy baie kalm gesê, "Jy hoef nie die pale uit te haal nie, dis net die blare wat vuil is!"

"Huh?" het Kondabate verbaas uitgeroep. Maar toe het sy verstaan en baie verlig gesê, "Ja, hierdie blare is vol goggas." Saam het die twee toe rivier toe gegaan om die blare te gaan was. Toe het hulle dit weer op die hut gaan terugsit. Niemand het nog ooit vantevore gaan blare was nie. Maar Kamaikan, Arobanai se moeder, het 'n paar blare van die dak afgehaal en gebrom, "Hierdie goggas is regtig lastig!" Toe het sy ook rivier toe gegaan om die blare te gaan was, so al asof dit die gewone ding was om te doen. Vir die daaropvolgende paar dae het van die ander vrouens ook na die rivier toe gegaan en 'n paar blare gewas wat van goggas oortrek was, terwyl hulle gesukkel het om nie uit te bars van die lag nie.

Die dae het, soos die Lelo-rivier, nou maklik verbygegaan. Die bos het geskenke vir sy kinders gegee: neute en wortels, bessies en vrugte, sampioene en vleis. Die jong manne het hulle vangste tentoongestel en met die meisies geflankeer. Die oumense het naby aan die kamp rondgedrentel, maar die meeste van die tyd het hulle in die skaduwee gesit en praat oor alles wat hulle aangevang het toe hulle nog jonk was. Die kinders het naby die rivier gespeel en in klein groepies in die jong boompies geklim totdat die boompies begin heen en weer wieg en oor die water begin afbuig het. Dan het hulle almal afgespring en die een wat nie vinnig genoeg af was nie, is deeglik heen en weer geskud deur die swaaiende boom. Die mans het klein bogies met stomp pyle gemaak vir die klein seuntjies, waarmee die klein seuntjies en dogtertjies dan gemaak het of hulle 'n moeë, beweginglose padda jag. Die vrouens het vir die meisies gewys hoe om 'n klein hutjie te bou, waarop die klein dogtertjie dan, baie ernstig, 'n ete van modder en neute gekook het vir haar jong vriend. Dan het hulle in die hutjie ingegaan en gespeel hoe om kinders te maak, op dieselfde manier wat hulle gesien het hulle ouers dit doen. In hulle speletjies het hulle alles probeer doen wat hulle  sou moes doen as hulle ouer was, en sonder om dit te besef, sou hierdie speletjies later in ernstige dinge verander. Die kinders het alle volwassenes "moeder" of "vader" genoem en elke ou persoon "oupa" of "ouma". Verder was daar altyd iemand wat bereid was om die gejagde buffel of luiperd te wees wat sou uitspring en hulle oorval en opvreet ten aanskoue van die ander se gelag en gegiggel.

Maar die paal waarop die kosmandjie wat altyd vol was en langs die vuur in die middel van die kamp gestaan het, het hulle elke dag daaraan herinner dat daar 'n groot fees aan die gang was, dat die bos self elke dag gevra word om sy kinders te onthou en om saam met hulle gelukkig te wees.

In hierdie tyd is Kidaya geseën met bloed. Sy het hierdie inligting baie trots met al haar vriendinne gedeel. Net 'n paar dae later was dit Arobanai se beurt. Nou sou daar, aanvullend tot die Molimo, ook 'n Elima fees gehou word. Tante Kondabate het laat aanbou aan haar hut en die meisies met hulle vriendinne het toe daar gaan intrek. By Kondabate het hulle nuwe liedjies geleer sing, liedjies wat net vrouens kon sing.

'n Paar gaste het aangekom. Dit was 'n ou paartjie wat gewoonlik by 'n jagtersgroep in die noorde gebly het, het die mense gesê. Eers het hulle in Sefu se kamp oorgebly waar daar 'n familielid van die man gewoon het. Daarna het hulle toe na die hoofkamp toe gekom. Ou Moke het hulle met eerbied begroet. Die ou vrou het reguit na Kondabate se hut toe gegaan. Kondabate het haar ook met groot eerbied begroet. Die meisies het skamerig na haar gekyk. Die ou vrou het op die grond gaan sit en saam met die meisies gesing en geoefen. Maar sy het nie die liedjies van die vrouens gesing nie, die liedjies van die Elima nie, maar die liedjies van die Molimo wat net deur mans gesing kon word. Dit het die meisies bang gemaak, maar Kondabate het hierdie gedrag plegtig beaam en begin om saam te sing. Die meisies het skamerig ingeval.

Vanaand was daar nie net een nie, maar vier mandjies wat vol kos aan die paal by die Kumamolimo gehang het. Manyalibo het 'n gloeiende kool vuur uit elke hut gaan haal om die Molimo-vuur mee aan te steek. Die mans en die seuns was opgewonde en senuweeagtig toe hulle begin sing het. Toe het die meisies uit die Elima-hut gekom, al agter die ou vrou aan. Sy het kole uit die Molimo-vuur gehaal en 'n tweede vuur aangesteek, reg langs die eerste een. Die vrouens het rondom hierdie vuur kom sit. Die meisies, wat hulleself geverf het met die kleursel van die swart katjiepiering, het in 'n lang ry gedans terwyl die vrouens die Molimo-liedjies al harder en harder en meer kragtiger gesing het. Vanaand het die vrouens die sang gelei en die mans het maar net saamgesing. Die ou vrou uit die noorde het by die vuur wat sy aangesteek het gaan sit en haar oë op die vlamme gerig. Oorkant haar het Kondabate gesit, die pragtige Kondabate. Asof gehipnotiseer deur die ou vrou se stip kyk, het sy ook bewegingloos in die vlamme ingestaar. Maar toe het die ou vrou haar hande begin beweeg terwyl sy 'n dans nagemaak het. Sy het haar dun, droë vingers uitgesprei en gebuig; haar benerige arms het heen en weer geruk en geslaan, so al asof dit nie aan haar behoort het nie. Maar toe het sy opgestaan en begin dans. Sy het rondom die mans se vuur gedans, terwyl die mans gesing het sonder om na haar te kyk. Haar gesing en gedans het al hoe meer intens geword. Sy het op die brandende kole gespring en daarop gedans. Toe het sy die vuur uitmekaar begin skop met haar voete. Met wilde skoppe het sy die kole in alle rigtings laat spat en die mans moes net koes om uit die pad uit te bly. Ou Moke het opgestaan en weer die vuur bymekaar gemaak, maar die ou vrou het dit net weer uitmekaar uit geskop. Op hierdie manier het sy die mans driekeer daaraan herinner dat dit die vrouens was wat vuur getem en daarna omgesien het, dat dit van die vrouens afgehang het of die vuur doodgemaak of aan die brand gehou word, of lewe beïndig word of voortgaan. Toe het die ou vrou 'n slingerplant-tou gegryp en dit om die nekke van die een man na die ander gesit. Elke persoon wat die lus om sy nek gehad het, moes stilbly en nadat al die mans lusse om hulle nekke gehad het, het die gesingery opgehou. Vir 'n rukkie was daar stilte wat net onderbreek is deur die bos se stem. Toe het ou Moke gesê, "Dit is waar, ons is vasgemaak. Ons is vasgemaak en kan niks doen nie. Ons sal iets moet gee om weer vry te wees."

Ekianga het gesê, "Ons sal die bok se vleis gee om weer vry te wees." Manyalibo het gesê, "Kom ons gee ook die vel van die sivetkat." Die mans het saamgestem. Toe het die ou vrou die lusse losgemaak en almal wat losgemaak is het begin sing.

Die volgende oggend het die ou vrou en haar man spoorloos verdwyn.

Ander besoekers het aangekom: jong mans uit groepe wie se jagvelde ver weg was, baie dae se loop ver. Die nuus van die Elima-fees het vinnig versprei. Wanneer die kamp se jagters ander jagters van ander groepe in die bos ontmoet het, het hulle baie gesels en geskinder en op hierdie manier uitgevind hoe dit met hulle families gaan. Hulle het vir mekaar vertel oor hoe gelukkig hulle al was om wild te vang op hulle jagtogte en die uitstaande suksesse wat die beste jagters wat hulle ken al gehad het, het nog meer indrukwekkend geword.

Die jong mans het aangesluit by die jagters van Apa Lelo. Die meeste van hulle het tantes en ooms of veraf verwante familielede in die groep gehad en hulle het gewoonlik by hulle oorgebly of in die hutte van die oujongkêrels rondgekuier. Hulle doel was om teen die aand se kant by die Elima-hut in te kom. Maar die meisies se moeders het die hut bewaak en al die beleëraars met klippe en kole vuur bestook.

Partykeer het die meisies uitgekom, met wit klei geverf en gewapen met lang, geweefde swepe. Hulle het deur die kamp gehardloop en as daar iemand was van wie hulle gehou het, het hulle hom 'n hou gegee met die sweep. Soms het hulle die volwassenes en die ou mans ook geslaan, maar dit was net van pure pret, 'n vriendelike huldeblyk aan hulle manlikheid. Maar as hulle 'n beskikbare oujongkêrel geslaan het, het dit beteken dat daar nou 'n verpligting was. Die een wat geslaan is, moes nou vir die meisie gaan kuier in die Elima-hut.

Tumba, die een wat Arobanai stilletjies gekies het, het homself maar skaars gehou. Toe het Arobanai en haar vriende besluit om hom te gaan soek. Hulle het vroeg een oggend vertrek, hulle borste en agterstewes versier met wit ontwerpe, en in 'n westelike rigting gehardloop terwyl hulle bok- en olifantspore gevolg het. Hulle het met lang, geluidlose treë gehardloop totdat hulle die kamp bereik het waar Tumba se groep gebly het. Met uitgerekte gille het hulle op die slapende kamp afgestorm en die mans om die hutte gejaag. Die mans en die seuns het hulleself so goed as moontlik probeer verdedig, na die vuilgoedhope agter die hutte toe gehardloop en enigiets wat hulle in die hande kon kry, na die vurige meisies toe gegooi. Uiteindelik het Arobanai haar uitverkose een raakgesien. Hy was besig om met sy boog droë piesangskille na die meisies toe te skiet. Maar hy moes op die ou end maar oorgee aan die nege wilde oorlogvoerendes. Arobanai het hom nie gespaar nie.

Op die vyfde dag het hy uiteindelik na die Elima-hut toe gekom. Hy moes woes met die moeders baklei om te kon ingaan, maar nadat hy dit reggekry het, was sy plig gedaan. Hy kon nou besluit of hy homself wou toewy aan Arobanai of haar verlaat, of hy kon 'n ander meisie kies. En dis toe net wat die ou doen. Hy het met Kidaya geflankeer en toe dit aand word kon Arobanai maar te goed hoor waarmee die twee besig was. Toe het sy besluit om 'n onderhoud toe te staan aan Aberi, wat sy pad na die hut toe oopbaklei het op die eerste dag en sedertdien alles in sy vermoë probeer het om haar van hom te laat hou. Sy sou met hom doen wat Tumba en Kidaya besig was om te doen, en as sy daarvan gehou het, sou sy vir hom gevra het om 'n bok te gaan vang vir haar ouers en om 'n suster in sy groep te vind wat met een van haar broers wou trou. En as sy nie daarvan gehou het nie - daar was baie aantreklike seuns daar buite, wonderlike jagters, wat daarmee gespog het dat hulle vir die bruid se ouers nie net een nie, maar twee bokke, sou bring. Bokke? Nee, 'n olifant of miskien twee! Die lewe was wonderlik. Die bos het gesorg vir sy seuns en dogters. Dit het nie net vir hulle vleis en vrugte gegee om te eet en skoon water om te drink nie, maar dit het  vir hulle vuur gegee, en dit het vir hulle ook die vreugdes van die liefde gegee.

"Dis donker hier rondom ons," het Arobanai gefluister,
"maar as daar donkerte is,
dan is die donkerte goed.
"

Toe het sy saam met Aberi op sy mat gaan lê en hom begin kielie. Hy het gegiggel en uitgereik na haar toe.

Ster-slang

Vertaling deur Santa Botha

Hier is ek. Ek is besig om te dans. Ons dans in 'n lang ry, geverf en versier ter ere van die god. Binnekort sal ons by Huitzilopochtli wees; binnekort sal ons die son in die lug help opstyg. Ons was krygers, nou is ons gevangenes. In 'n lang ry dans ons en heel voor staan die hoëpriesters. Ons dans in 'n lang ry, terwyl ons die een na die ander heengaan as 'n offer aan die gode. Binnekort sal hulle die mes wat uit swart klip gemaak is in my bors ook insteek. My bloed sal oor die altar vloei en hulle sal my hart uitsny. My bloed is voedsel vir die gode. My bloed is voedsel vir Huitzilopochtli, die son. Ek dans. Hulle het vir my 'n pulp gegee om te drink. Nou voel ek lig terwyl ek dans. Aanvanklik was ek hartseer gewees omdat dit nie ek was wat 'n gevangene van 'n vyand gemaak het nie. Maar nou is ek lig: deur my sal die Aarde gered word, die offer van my liggaam sal die gode in so'n mate bevredig dat hulle sal besluit om nie die Aarde te vernietig nie. Ek sal opstyg tot by Huitzilopochtli; ek sal saam met hom deur die lug reis. En dan sal ek 'n suikerbekkie word, soos wat al die dapper krygers wat tydens oorlogvoering gesneuwel het sal word, hulle wat gedurende die oorlog opgeoffer is, en dan sal ek van blom tot blom vlieg en altyd gelukkig wees solank as wat die Aarde bestaan. Dis hoe dit nog altyd was en dis hoe dit moet wees.

Ek dans en kom al hoe nader aan die altaar. Ek dans en terwyl ek dans, onthou ek:

Ek is gebore op dag 1 van die maand Ocelotl, en op hierdie manier het die noodlot dit vir my vooruit bepaal dat ek as 'n oorlogsgevangene sou sterf. Die dag toe ek in die wêreld gekom het, het die vroedvrou vir my gesê: "Liefste seun, weet vandag dat jou huis nie die huis van jou geboorte is nie, want jy is 'n soldaat, jy is 'n Quecholli-voëltjie en die huis waar jy gebore is, is maar net 'n nes. Jy is bestem om die son te verkwik met die bloed van jou vyande en om die Aarde te voed met hulle liggame." Alle seuns is op hierdie manier begroet.

As dit 'n meisie was, sou sy gesê het, "Jy moet in die huis bly net soos wat die hart in die liggaam bly. Jy moenie die huis verlaat nie, jy moet soos die as in die stoof wees." Baie toesprake is gelewer met my geboorte. Familie en vriende het kom besoek aflê en die sterrekundige-priester is gevra om die heilige kalender te lees wat 'n persoon se lot voorspel het. Hy het die dag van my onderdompeling vasgestel en op hierdie dag is ek meer as een keer met water besprinkel. Die vroedvrou het die volgende woorde uitgespreek: "Neem en ontvang, want jy sal van water lewe op hierdie Aarde, jy sal groei en groen word van water; water gee vir ons wat ons nodig het om van te leef." Toe het hulle vir my die naam Citlalcoatl gegee, Ster-slang.

Vir agt jaar lank het ek in my vader se huis gewoon. Van die oomblik af wat ek kon loop en praat, moes ek gaan water en hout haal het en saam met my vader na die mark toe gegaan het. Later het ek geleer om vis te vang en te seil; my susters, daarenteen, het geleer om te spin en te weef, hoe om die vloer te vee en om mielies fyn te maak op die maalklip. Toe ek agt jaar oud was, het my vader my na die calmecac toe gestuur, die tempelskool, en nie na die gewone krygers-skool toe nie. "Luister, my seun," het hy vir my gesê. "Aan jou sal daar nie eer of respek betoon word nie. Jy sal geïgnoreer, verag en verneder word. Elke dag sal jy die dorings van die garingboom moet afsny om boete te doen. Jy sal jouself met die dorings moet steek en jou bloed as 'n offer moet gee en snags sal hulle jou kom wakker maak om jou in koue water te laat bad. Berei jou liggaam voor vir die koue en wanneer die vas-tyd aanbreek moet jy seker maak dat jy dit nie verbreek nie. Moenie toelaat dat enigiemand 'n teken van swakheid by jou bespeur tydens die vastyd- en boetedoenings-oefeninge nie.

Ek het geleer om 'n man te wees in die tempelskool. Hulle het opoffering en self-ontkenning vereis. Snags, in die berge, moes ons wierook en ons bloed aan die gode offer. Bedags moes ons baie hard werk in die tempelvelde. Baie swaar straf het gevolg op die geringste misstap. Partykeer het ek gehuil en gewonder hoekom dit so moeilik moet wees om 'n soldaat en 'n man te wees. Maar met tyd het ek sterker geword. En ek het neergesien op die seuns wat die gewone krygers-skool bygewoon het. Hulle moes hout kap en die watervore en -kanale skoonmaak en op die gemeenskapsvelde boer. Maar met sononder het hulle almal na die cuicacalco toe gegaan, die huis van sang, en dan daar gedans en gesing het tot middernag toe en saam met meisies geslaap het met wie hulle nie getroud was nie. Hulle het net bevriend geraak met krygers wie se optredes hulle bewonder het en dit graag wou namaak. Hulle het niks geweet van die dieper dinge, van wetenskap, die kunste of aanbidding van die gode nie.

Ons, wat studente was van die calmecac, was bestem vir hoër dinge. Ons kon priesters word of openbare amptenare. Ek het selfdissipline en uithouvermoë in die tempelskool geleer, maar ek het ook geleer om ander mense met eerbied te benader en aan te spreek, op dieselfde manier as wat  dit in die koning se hof gedoen is. Ek het die regte manier aangeleer oor hoe om met openbare amptenare en regters te werk. Ek het sterrekunde geleer, sowel as die ontleding van drome, die uitwerk van jare en die sterrekundige kalender. Ek het geleer hoe om die tekens en prentjies vir syfers en name te teken en hoe om die geskrifte van ons voorvaders te ontsyfer. Ek het ook die gewyde gesange van ons mense geleer sing, die liedere waarmee die lof van die gode besing is en die liedere wat vertel het van die Asteke-volk se geskiedenis. Want ons is 'n groot en magtige volk wat deur al die volke van die aarde gevrees word.

Lank gelede het ons weggetrek uit Aztlán, ons eerste tuisland, van waar ons naam, die Asteke, afgelei is. Volgens die legendes was Aztlán deur water omring en het ons daar gelewe as vissermanne. Heel aan die begin was ons arm. Ons het klere gedra wat gemaak was van dierevelle en het niks anders as pyle en boeë en teikens vir ons spiese gehad nie. Ons was niks beter as die bosmense wat verder noord van ons koninkryk af gebly het nie. Ons leiers was vier priesters, wat 'n draagbare tempel wat van riete gemaak was, rondgedra het. In hierdie tempel het ons god, Huitzilopochtli, gewoon vanwaar hy met hulle gepraat het en vir hulle gesê het wat hulle behoort te doen. Nadat ons Aztlán verlaat het, het ons god ons beveel om onsself die "maanmense" te noem, die Meksikas.

Wanneer ons op 'n goeie blyplek afgekom het, het ons miskien vir 'n paar jaar daar gebly. Ons het koring gesaai, maar nie altyd lank genoeg daar gebly om dit te oes nie. Gewoonlik het ons 'n bestaan gemaak uit die jag van bokke, hase, voëls, slange en op dit wat uit die aarde gegroei het.

Maar ons god het ons belowe: "Ons sal tot rus kom en onsself iewers vestig en dan sal ons al die volke van die wêreld oorwin; en ek sê nou vir julle, dat ek julle definitief as meesters en konings oor alles in hierdie wêreld sal aanstel; en dat julle sal regeer oor ontelbare onderdane wat aan julle sal eer bewys, en hulle sal aan julle 'n oorvloed van kosbare gesteentes, goud, vere van die Quetzal-voël, smaragde, koraal en ametis skenk. En julle sal dit as juwele dra. En julle sal ook 'n groot verskeidenheid vere, kakao en katoen in verskillende kleure hê. Julle sal al hierdie dinge belewe!"

Party mense het gesê dat Huitzilopochtli nie van die begin af ons god was nie. Ons stam het uit sewe familiegroepe bestaan, en elke familiegroep het sy eie beradings gehou en sy eie leier gekies. En so het hulle dan gesê, het elke familiegroep ook sy eie god. Maar Huitzilopochtli was die magtigste van hulle almal, die god van son en van oorlog. Ons het deur baie lande gereis. Sommiges was verlate en onbewoond, ander was gevestig en ons moes met die inwoners daarvan baklei. By sommige plekke het ons langer vertoef en 'n tempel vir ons god gebou. Maar ons het altyd gevoel asof ons gedryf word om te bly beweeg. Ons moes dikwels ons oumense agterlaat wanneer ons verder getrek het. Partykeer het 'n groep uit ons stam van ons geskei en in 'n ander rigting ingetrek. Ander het egter weer by ons aangesluit: jagters, wat nog nooit in 'n dorpie gewoon het nie. Uiteindelik het ons by die pragtige land tussen die berge uitgekom wat vandag ons naam dra, die naam Meksika. Dit sit hoog bokant die twee seë, beskerm en omring deur die berge. Hier is dit altyd lente. Net by uitsondering raak dit vriesend koud hier, en wanneer dit bedags warm is in die somertyd, bly die nagte altyd koel. Fonteinwater uit die berge voorsien die land van water en in die laaggeleë valleie is daar vyf koel mere, wat omring is deur dorpies en stede.

Lank gelede was daar 'n magtige koninkryk hier, die Tula-koninkryk, stad van die god Quetzalcoatl. Maar Quetzalcoatl, die god van die kunste en van die kalender, het sy stad verlaat en die koninkryk het in duie gestort. Die dorpies en die stede rondom die strandmere was klein en die mense was sonder 'n leier. Elke stam het vir homself bestaan, elkeen met sy eie tradisies en sy eie gode.

Ons het 'n tuiste gevind by 'n plek met die naam Sprinkaanheuwel, Chapultepec. Daar het ons vir die eerste keer 'n enkele leier vir die hele stam gekies, omdat ons al te veel moes baklei met ons bure en nou 'n kaptein nodig gehad het wat bedrewe was in oorlogvoering. Ons bure het bekommerd geraak toe ons onsself daar gevestig en kinders gehad het en ons toe aangeval. Ons het onsself baie goed verdedig, maar toe hulle te sterk vir ons geraak het, het hulle ons weggedryf. Ons kaptein is gevange geneem en geoffer, en toe moes ons onsself oorgee aan ons bure.

Die regeerders van Culhuacán het vir ons 'n bietjie grond gegee op 'n plek wat twee ure ver weg was van hulle stad af en waar dit gekrioel het van die slange. Ons was veronderstel om daar te bly omdat hulle bang was vir ons en ons nie naby hulle wou hê nie. Maar ons het die slange gevang en dit gebraai, omdat ons na al ons omswerwinge al gewoond geraak het daaraan om swaar te kry. En dis hoekom hulle ons slang-eters genoem het. Maar hulle het ons gerespekteer omdat ons oorleef het waar niemand anders kon nie. So was dit binne 'n kort tydjie vir ons moontlik om met hulle handel te dryf. Hulle het met ons dogters getrou en ons het met hulle s'n getrou, en op hierdie manier het ons verwant geraak aan mekaar. As hulle oorlog gevoer het met hulle bure, het hulle ons genader vir hulp, en dan het ons wapens gemaak om hulle te gaan red. Maar toe hulle sien watter goeie krygers ons was, het hulle weer bang geword vir ons en ons nie vir ons hulp bedank nie. En toe het ons oorlog verklaar teen hulle.

Ons het gevlug na Acatzintlán. Daar het ons vlotte gemaak van ons skilde en spiese en daarmee oor die water na 'n klein eilandjie in die meer toe geroei.

En toe het een van Huitzilopochtli se priesters 'n visioen gehad waarin die god aan hom verskyn en vir hom gesê dat ons moet gaan soek na 'n nopal-kaktus waarop 'n arend sou sit. Hierdie plek sou genoem word die "plek van die kaktusvrugte", Tenochtitlán, en op daardie plek moes ons 'n stad begin bou. Ons het na die arend gesoek wat op die kaktus gesit het en hom gekry, terwyl hy besig was om van die rooi kaktusvrugte te eet, net soos wat die son aan die harte van die krygers geëet het. Daar het ons grassooie afgesny en dit in die vorm van 'n heuwel opmekaargestapel en toe bo-op dit 'n tempel van riete opgerig vir Huitzilopochtli. "Hier," het Huitzilopochtli vir ons gesê, "hier sal ons van onsself heersers maak oor al die stamme, oor hulle eiendom, oor hulle seuns en dogters. Hier sal hulle ons dien en eerbewys-betalings aan ons maak. Op hierdie plek sal die beroemde stad gestig word wat bestem is om die koningin en meesteres oor al die ander te word - waar ons eendag al die konings en prinse sal ontvang wat hierheen sal kom om eer te betoon aan die magtigste stad."

So het ons onsself dus weer op'n plek bevind wat deur water omring was, net soos ons vorige tuisland, Aztlán.

Soos wat ons al vir eeue daaraan gewoond was om te doen, het ons die stad verdeel volgens die heilige nommer vier. Die stad het bestaan uit vier vierdes en elke vierde is opgedeel in stadsrade wat calpulli genoem is. Elke calpulli het aan 'n spesifieke stam behoort en elkeen het sy eie tempel vir hulle stamgod gehad. Die land het aan die hele stam behoort en is slegs geleen aan die individuele families.

Daar was 'n oorvloed van voëls en vis daar. Maar omdat ons net 'n beperkte hoeveelheid land gehad het, het ons tuine gemaak in die water. Ons het mure geweef van riet en tussen hierdie mure het ons lae modder en waterplante ingebou, totdat dit bokant die water uitgesteek het. Dan kon ons boontjies en mielies daarop plant.

Na die verloop van 'n paar jaar het ons onder mekaar begin stry en 'n deel van ons stam het toe weggetrek en Tlatelolco gaan stig op 'n nabygeleë eiland.

So het ons tussen riete en biesies op ons eiland gelewe, sonder hout of klip. Tweehonderd jaar het al verbygegaan sedert ons Aztlán verlaat het.

Ons het vir niemand ingegee nie omdat ons stad op die grense gelê het van drie streke, die streke van die Tepaneke, die Acolhuase en die mense van Culhuacán, waarvan die inwoners daarvan hulle almal rondom die meer gaan vestig het. Ons het na hulle markte toe gegaan en daar met hulle gaan handel dryf. Ons het vir hulle vis, paddas en ander waterdiere gebring en hulle het vir ons hout en klip gegee vir ons huise en tempels.

Toe ons kaptein en hoëpriester, Tenoch, dood is, het ons vir die regeerder van Culhuacán gevra om vir ons 'n heerser te gee omdat die Meksikane veragtelik en onbelangrik was en omdat ons gedink het dat dit ons aansien sal verhoog as ons die seun van 'n beroemde prins vir ons leier kon hê. Ons het hom versoek om Acamapichtli, die seun van 'n Meksikaan en van 'n Culhua-prinses, as ons heerser aan te stel. Hy was ook verwant aan Acolhuas. Tlatelolco, daarenteen, het die seun van die Tepaneke se kaptein gekies om hulle heerser te wees. Op hierdie manier was al die stamme rondom die meer verwant aan mekaar. Acamapichtli het op 'n vredevolle wyse regeer. Hy het ons laat huise bou, watertuine en kanale.

Van al die nasies rondom die meer, was die Tepaneke die sterkste. Hulle het oorlog gevoer met ander stede en sodra hulle die stede verower het, het hulle eerbewys van die inwoners geëis. Soos wat hulle al sterker geword het, moes ons ook op die ou end eer bewys aan hulle en saam met hulle gaan oorlog maak het wanneer hulle so gesê het.

Toe ons kaptein, Acamapichtli dood is, het ons leiers sy seun, Huitzilihuitl, "Suikerbekvoëltjie-Vere" as sy opvolger gekies en hy het toe met 'n kleindogter van die Tepaneke-kaptein getrou. Op hierdie manier het ons situasie verbeter en die Tepaneke moes ons noodgedwonge daarvoor respekteer. Huitzilihuitl het oorlog gevoer met die lande in die suide, waar daar 'n oorvloed van katoen was. Dit is hoe die Meksikane dit reggekry het om hulle eerste klere uit katoen te maak. Voorheen het hulle net die rowwe materiale geken wat gemaak was van garingboom-vesels. Toe het hy Cuauhtinchan, Chalco, Otumba, Tulancingo en nog meer stede verower. Hy het ook die oorlog met Texcoco begin.

Sy seun was Chimalpopoca, wat na hom as kaptein verkies is. Hy het die oorlog met Texcoco beeïndig en die stad verower. Die regeerder van die Tepaneke het die stad aan die Meksikane oorhandig en van toe af moes hulle aan ons eer bewys. Ons moes egter nogsteeds aan die Tepaneke eer bewys.

Maar na die dood van die Tepaneke se regeerder, wou ons nie meer hulle onderdane wees nie. Ons stad het groter geword, en ons het nie meer in hutte gebly nie, maar huise gebou van klip. Ons wou nie meer nie Tepaneke dien nie. Maar die boere was bang gewees om oorlog te maak met die Tepaneke want hulle het uit ondervinding geweet hoe sterk hulle was. Toe het die opsieners - dit was nou almal wat familie was van die kaptein, asook die krygers se leiers - gesê: "As ons nie suksesvol is met hierdie oorlog nie, sal ons onsself in julle hande oorgee. Julle mag dan wraak neem op ons en ons laat vrot in vuil hokke." Daarop het die mense soos volg geantwoord: "En ons belowe om julle te dien en vir julle te werk, om julle huise te bou en om julle as goeie regeerders te erken, as julle hierdie oorlog sou wen."

Toe het ons aangesluit by die magte van Texcoco, teen wie ons vroeër baie oorlog gevoer het, en nou ook teen die Tepaneke geveg het. Ons het beslag gelê op hulle stad vir honderd en veertien dae. Toe het ons hulle verower. Hulle regeerder, Maxtla is opgeoffer en sy hart is uitgesny. Daarna is hy begrawe, omdat dit die gepaste ding was om te doen vir 'n regeerder.

Nou het die Meksikane 'n groot deel van die land besit. Die land is onderverdeel, en in ooreenstemming met die ooreenkoms wat gemaak is tussen die opsieners en die mense, het die leiers en die opsieners die grootste deel ontvang. Die stamme het egter net 'n klein bietjie grond ontvang, skaars genoeg om hulle tempels te behou. Party mense sê egter dat daar nooit 'n ooreenkoms gemaak was tussen die mense en die opsieners nie, en dat die opsieners dit alles opgemaak het. Die mense het gesê dat dit onregverdig was, want vroeër het die land altyd aan die hele stam behoort het en het almal dieselfde regte gehad. Maar kon hulle hulsef verdedig? Die krygers het die oorlog gewen en daarmee die koninkryk vergroot. En wie was veronderstel om mag te hê in hierdie land? Die boere, wat 'n bietjie mielies uit die grond uit trek? Of die krygers, wat die koninkryk vergroot en ander stamme dwing om eer te bewys? En wie sorg daarvoor dat daar altyd gevangenes is wat geoffer kan word tydens feeste, sodat die gode hulle nie vir ons vererg en die Aarde vernietig nie?

Toe ons nog rondgedwaal het as swerwers en arm en veragtelik was, toe het ons nog almal dieselfde regte gehad, dis waar. Elkeen was 'n kryger en 'n boer gelyktydig. Maar hoe is ons veronderstel om oorloë te maak en stede te verower as elkeen toegelaat word om sy sê te sê en as elkeen wil kanselier word? En sal daar nou van die priesters, die regter en die openbare publiek ook verwag word om in die grond te gaan skoffel? Hoe sal hulle dan in staat wees om hulle take uit te voer?

Nee, die ooreenkoms is regverdig: elke jong man moet sy oorlogsdiens gaan doen. Sodra die seuntjie tien jaar oud is, sny ons al die hare op sy kop af, en net aan die agterkant van sy nek word daar 'n stukkie maanhare gelos. Wie ook al vir die eerste keer iemand gevange neem, al was dit ook met die hulp van sommige van sy kamerade, mag sy maanhare afsny. Dan is hy 'n iyac. Maar eers as 'n kryger heeltemal op sy eie vier persone gevange geneem het, sou hy 'n tequia word. En kom al die kantore en die eer nie die tequia toe nie? 'n Tequia ontvang 'n gedeelte van die belasting wat die gaarder bymekaarmaak. Hy mag vere en leer-armbande dra. Hy kon 'n Luiperd-ridder of 'n Arend-ridder word. Die koning kon 'n tequia in sy diens aanstel. Maar diegene wat nie daarin kon slaag om na een of twee veldtogte 'n tequia te word nie, moes in die landerye gaan werk het. Hy moes dan belasting betaal en is gereeld versoek om aan openbare projekte te help werk. Hy moes die strate skoonmaak of die damme regmaak, en hy moes in die landerye van die belangriker openbare amptenare werk. Hy mag nie katoen-klere of juwele dra nie. Is dit nie regverdig nie? Maar diegene wat homself onderskei het as 'n kryger of as 'n openbare amptenaar is oorlaai met geskenke wat bestaan het uit klere, juwele en grond. Die ander moes vir hom werk en sy store volmaak met mielies.

Ons het 'n magtige en ryk volk geword. Daar is mielies op die mark, sowel as groente en hoendervleis. Die vrouens berei verskillende soorte etes op klein vuurtjies voor wat ons by hulle kon koop. Handelaars bied materiale, skoene, drankies, pelse, pottebakkery, toue, pype en allerhande soorte gereedskap aan. Die vissermanne bring vis, slakke en krappe van die meer af na die stad toe. Van die mees verafgeleë streke bring ons handelaars groen kwarts en smaragde, skilpaddop en luiperdvelle, amber en papegaaivere. Ons ontvang elke jaar 52,000 ton kos van die stede wat ons verower het, as eerbewys. Talle konvooie met draers beweeg dan eindeloos heen en weer. Die eerbetoners moet 123,000 katoen-kledingstukke aflewer en 33,000 bondels vere. Die Yoaltepec-provinsie stuur elke jaar vir ons veertig goue armbande van vingerdikte. Tlachquiauco moet twintig langnek-bottels vol goudstof aflewer. Vanuit Xilotepec kom daar elke jaar 16,000 vrouensrokke, 16,000 toga's vir die mans, twee oorlogsuitrustings met skilde en hooftooisels, sowel as twee lewende arende.  Uit Tochpan kom peper, uit Tochtepec kom rubber en kakao. Die provinsies voorsien ons van mielies, graan, kakao, heuning, sout, peper, tabak, meubels en erdeware. Daar word van hulle verwag om goud aan te dra van die suidkus af en turkoois en groen kwarts van die ooskus af. Huaxtepec voorsien papier en Cihuautlan mossels.

Het ons nie baie stede verenig in 'n groot koninkryk nie? Ons klipsnyers, wat juwele maak uit edelgesteentes, kom hulle nie van Xochimilco af nie? En die mense wat vere geweef het en die mooiste hooftooisels daarvan gemaak het, is hulle nie van Amantlán afkomstig nie? Het ons hulle nie verower en hulle huise afgebrand nie? En die goudsmede het vanuit die verre suide gekom.

Ons koning, Moctezuma word deur 3,000 bediendes versorg - om nie eers te praat van al sy arende, slange en luiperds wat elke dag 500 kalkoene opvreet nie. In die maand Uey tecuihuitl, wanneer die armes gewoonlik al hulle voorraad opgebruik het, maak die koning die stoor oop en deel hy kos en drank uit aan die mense.700,000 mense bly in die stad Mexico-Tenochtitlán. Ons het die eilande versterk en ons het damme in die water gebou, brûe oor kanale, tempels en paleise, 'n waterleiding wat water van Chapultepec na die hoofstad toe gelei het. Wanneer die koning 'n tempel bou, lewer die stede klip en kalk af.  Duisende werkers moet deur die koning van voedsel voorsien word wanneer hulle besig is om 'n tempel te bou vir die gode. Ons konings het tuine en baddens gemaak en diere en plante vanuit die hele koninkryk is hier versamel. Wanneer die koning 'n fees hou, nooi hy die regeerders van al die vyandelike stede uit en oorlaai hulle dan met juwele en klere van besonderse kwaliteit en duursaamheid. Wie is nog so ryk, so magtig soos ons, die Meksikas? Toe ons koning, Ahuitzotl die Huaxteks se rebellie gefnuik het, is daar vir weke lank feesgevier. Net die opoffering van die gevangenes alleen het al vier dae lank geduur. Geen volk is belangriker, geen volk is so sterk soos wat ons s'n is nie!

Maar:

Soos hulle sê, bly ons nie hier nie,
ook het ons nie hierheen gekom om net die tyd te verwyl nie.
O, ek moet die pragtige blomme verlaat,
Ek moet afgaan daarheen om na die hiernamaals te gaan soek.
O, net vir 'n oomblik het my hart baie moeg geword:
die pragtige liedere
is net vir ons geleen.

Die gode vra offers. Ons moet die gode voed met offers, sodat hulle nie die wêreld sal vernietig nie. Ek dans. Die dromme dreun, die fluite skree, ek dans. Vinniger en vinniger dans ek, al hoe wilder en wilder. Binnekort sal ek by Huitzilopochtli wees. Nee, ek is self Huitzilopochtli. Dra ek dan nie sy toga's nie, is ek dan nie soos hy aangetrek nie? Hier voor my staan die priester met die mes wat gemaak is uit swart klip. Nou is dit my beurt.

Verslag aan die Raad van die Verenigde Sterrestelsels

Vertaling deur Santa Botha

Gebaseer op ons waarnemings tydens ongeveer 10,000 rewolusies van die planeet Yer, moet ons dringend protes aanteken teen die toelating van hierdie planeet en sy inwoners tot die Verenigde Sterrestelsels.

Op Yer is daar 'n spesie van inwoners wat hulleself as intelligent beskou en wat gedurende die laaste miljoen rewolusies ongelooflik vermenigvuldig en oor die hele planeet versprei het: die sogenaamde Nin, Orang of Mense. Hierdie spesie, wat oorspronklik van boombewoners afstam, beskou hulle in der waarheid as intelligent, maar die huidige ses biljoen Nin is nie daartoe in staat om hulle optredes teenoor mekaar op 'n sinvolle manier te koördineer nie. Baiekeer vernietig sommige van hulle iets wat ander geskep het. Hulle ontneem mekaar ook van kos en klere. Hulle produseer wel dinge wat veronderstel is om die lewe makliker en meer aangenaam vir hulle te maak, maar terwyl hulle besig is met hierdie proses, vernietig en vergiftig hulle hulle planeet se atmosfeer, water en grond, en op hierdie manier maak hulle hulle lewens oneindiglik moeiliker. Een van die ergste rampe waaronder hulle ly is 'n gebruik (of moet ons dit 'n siekte noem?) wat hulle noem wojna, war, krieg or guerra. Wanneer 'n wojna uitbreek, val groot groepe van die Nin mekaar aan en roei hulle mekaar uit. Hulle verwoes die wonings en kosvoorrade van hulle "vyande" en martel mekaar op die mees afgryslikste maniere. Ons navorsingspan het gaan probeer uitvind hoekom hulle dit doen. Om die waarheid te sê, stem die Nin self gladnie saam oor hierdie saak nie. Daar is, en dit is wat dit alles so eienaardig maak, baie van hulle wat hierdie wrede gebruik verwerp en dit beskou as die ergste ramp wat die Nindom kan tref.  Ander weer, is baie lief vir wojna. Hulle vertel stories daaroor of kyk na bewegende prente daaroor. Die Nin wat wojna verwerp, het verskillende opinies oor hoekom dit daartoe kan lei. Sommige van hulle beskou dit doodeenvoudig as 'n uitbarsting van kranksinnigheid onder die belangriker groepslede van die Nin. Ander glo dat die Nin twee verskillende soorte siele in hulleself huisves, waarvan die een 'n goeie een is wat lief is vir die ander Nin, en 'n slegte een wat die ander Nin haat. Sommiges glo ook dat wojna regtig nie lekker is nie, maar dat dit nou en dan nodig is. Dit gebeur dikwels dat twee groepe Nin 'n wojna met mekaar begin, waarin elkeen sê, "Wel, ons wil nie hierdie wojna hê nie, maar ongelukkig forseer die ander ons daarin."

Ons navorsingspan neig na die oortuiging toe dat die Nin se basiese probleem daarin geleë is dat hulle nie daartoe in staat is om die optredes van groot groepe teenoor mekaar in harmonie te laat geskied nie. Dit wil voorkom asof hulle nog gladnie verstaan dat hulle nie afsonderlike individue is nie, maar dat hulle aan mekaar en met alle ander inwoners van die planeet verbind is. Om dit wat bedoel word verstaanbaar te maak aan die Nin, kan mens die voorbeeld gebruik van twee Yer inwoners wat as osse bekend gestaan het by sekere van die Nin. Indien twee van hierdie osse ingespan sou word voor 'n tipe vervoermiddel (genoem wa deur sommige van die Nin) en een van die osse begin noordwaarts trek, terwyl die ander een na die westekant toe beweeg, sal albei van hulle in die noordweste beland, self al wou nie een van hulle eintlik soontoe gegaan het nie. Die Nin verstaan nog nie dat hulle aan al die ander ses biljoen Nin verbind is, soos wat die twee osse voor aan die wa was, nie. Dit is maar net omdat hulle optredes baie meer ingewikkeld is as die blote trek van 'n wa, en die gevolge van ses biljoen Nin se optredes is uit die aard van die saak baie moeiliker om te bepaal as die pad wat twee osse moet loop. Dit wil voorkom asof die intelligensie van die Nin tot dusver nog nie die opgewasse is vir die taak voor hande nie.

Wat nou hierna volg is 'n verslag wat deur ons navorsingspan opgestel is in verband met die oorsprong van wojna op die planeet Yer. Baie, baie duisende planeet rewolusies gelede, toe die Nin nog 'n bestaan gemaak het uit jag en die bymekaarmaak van kos in die woude, het hulle nog nie geweet wat wojna was nie. Gedurende daardie tyd, het die Nin in klein groepies bymekaar gebly en die woude gefynkam. So 'n groep het slegs uit sestig tot tagtig Nin bestaan, ongeveer tien tot vyftien sogenaamde families.

Elke groep het 'n spesifieke jaggebied gehad waardeur hulle in die loop van die jaar gedrentel het op soek na bessies en vrugte, sampioene en wortels, na slake en paddas en natuurlik vir wild waarop hulle kon jag maak. In een gebied, kom ons sê maar in 'n bergvallei, was daar baie min van hierdie groepies gewees, miskien drie of vier op die meeste. 'n Woud kan nie 'n groot aantal mense voed nie. Hierdie Nin het geen kennis gehad van konings of kapteine nie, van hofsale, polisie of tronke nie, en daarom het hulle dan ook geen wette gehad nie. Hoekom moes hulle? Wanneer iemand iets gedoen het wat die ander nie goedgekeur het nie, het hulle saans saam om die vuur gaan sit en daaroor gepraat. Wanneer hulle wou gaan bokke jag, het hulle hulle beste jagter gevolg. Maar wanneer die tyd aangebreek het om na die heuning van die wilde bye te gaan soek, het hulle die vrou gevolg wat die bye die beste geken het. En wanneer daar 'n rusie uitgebreek het, het hulle na die raad van die oudste vrouens en mans geluister omdat hulle die meeste ondervinding gehad het. Die Nin het bymekaar gebly en alles met mekaar gedeel, omdat hulle andersins nie sou oorleef het nie.

Sodra 'n groep te groot begin word het, moes dit verdeel, en moes een helfte 'n nuwe jagveld iewers anders gaan soek het. In sulke gevalle kon een groep 'n ander groep se area binnegaan. En dan, ja, kon daar 'n geveg onstaan. Maar so 'n geveg was gewoonlik vinnig verby. Gewoonlik was dit niks meer as 'n groot geraas nie. Sodra die een groep weggehardloop het, was die geveg verby.

Hierdie gevegte was uitsonderlik en het slegs gebeur wanneer een groep sy gebied moes verlaat. Dit het nie baie gebeur nie omdat die vrouens hulle babas vir vier jaar of langer gesoog het en dit het hulle daarvan weerhou om nog kinders gedurende daardie tyd te hê. Op hierdie manier het die vrouens, onwetend, die groep daarvan weerhou om te groot te word en om gevolglik te moes verdeel. Afgesien daarvan was daar nooit rede gewees om te baklei nie. Hierdie Nin groepe het geen begeerte gehad om hulle jagvelde uit te brei nie. Hulle sou nie eers in staat gewees het om 'n groter jaggebied te benut nie. Daar was ook geen rede gewees om die naburige groep aan te val en hulle te beroof nie, omdat daar niks was om te roof nie. Die Nin van daardie tye het net 'n klein hoeveelheid voorraad aangehou. Hulle het van die hand na die mond gelewe en het net soveel kos bymekaargemaak en gejag as wat hulle in 'n kort tydjie kon eet. Hulle het op hierdie manier gelewe vir honderde duisende planeet rewolusies.

Omtrent 6,000 planeet rewolusies gelede het die klimaat verander in sekere gebiede waar die Nin gewoon het. Die verskille tussen die droë en die reënerige seisoene het groter geword, en sekere plantsoorte het uitgesterf. So het die diere wat van hierdie plante gelewe het dan ook verdwyn. Maar sekere plante, waarvan die saad uit harde pitte bestaan het, kon baie goed oorleef in hierdie klimaat. Die Nin het ontdek hoe om hierdie plante met sorg en aandag te laat floreer en op hierdie manier kon hulle baie meer kos binne 'n redelike klein gebied oes, as wat hulle sou kon doen as hulle moes gaan rondloop het en maar gevat het wat hulle kon kry. Hierdie Nin wou nie meer gaan rondloop nie. Hulle het die eerste dorpies opgerig en boere geword. Maar hulle het nogsteeds baie van hulle jag-tradisies behou. Nou het hulle net soos wat hulle vroeër saam gejag het, saam die grond bewerk. Die land het aan niemand behoort nie - of aan almal. Wanneer dit nodig geword het om oor gemeenskap-sake besluit, het die inwoners van die dorpies bymekaargekom en die probleem bespreek. Hulle het nie leiers verkies nie, maar wanneer daar 'n spesifieke aktiwiteit was wat georganiseer moes word - byvoorbeeld 'n nuwe deel in die woud wat skoongemaak moes word, of 'n nuwe gemeenskapskompleks wat gebou moes word, of om te gaan jag - dan het hulle 'n man of 'n vrou gevra wat genoeg kennis daarvan gehad het om die leiding te kon neem. Dit was hoe dit altyd was. Die mans het nogsteeds gaan jag vir wild wat al hoe minder begin word het, terwyl 'n groot deel van die werk op die lande deur die vrouens gedoen is. Maar aangesien die stapelvoedsel van die lande af gekom het, het die vrouens dikwels meer sê daaroor gehad as die mans.

Die plaaslewe het sy voordele en sy nadele gehad. Die mense het afhanklik geword van graan. Toe hulle nog jagters en insamelaars was, was dit nie so 'n ernstige saak gewees as een soort plant nie baie goed gedoen het in een jaar nie. Daar was honderde ander in die woude gewees. Maar as daar nou 'n droogte gekom het, het almal honger gely. Hulle kos was ook merendeels dieselfde gewees, sonder veel verskeidenheid, met die gevolg dat hulle tande sleg geword het en hulle kinders klein gebly het. Ook die werk was moeilik en eentonig. Die lewe het nie meer soveel verskeidenheid en opwinding gebied nie. Maar daar was geen omkeer meer nie, al was die enigste rede daarvoor gewees dat die jagters en insamelaars baie meer land nodig gehad het as die boere.

Die nuutste verwikkeling was nou dat hulle nie meer van die hand na die mond gelewe het nie. Hulle kon meer vervaardig as wat hulle kon verbruik. Hulle kon voedsel stoor. Dan sou hulle iets gehad het in slegte tye, 'n veiligheidsnet indien daar 'n droogte of 'n vloed sou kom. Indien hulle voorraadhoop groot genoeg was, kon hulle ook daarvan belê in die toekoms. Dit beteken dat, indien hulle genoeg graan gestoor het, hulle dit byvoorbeeld sou kon bekostig om minder lande te bewerk. Party van die mense kon eerder 'n besproeingsloot grawe, sodat die oes in die daaropvolgende jaar selfs meer volop sou wees en die surplus soveel groter. Dan kon hulle hulle lewens óf nog gemakliker maak, óf die surplus weer in iets anders belê. Indien dit nie vir almal nodig was om op die lande te gaan werk nie, kon een van hulle begin het om te spesialiseer in grofsmedery en 'n ander in pottebakkery, en so aan om hierdie vaardighede sodanig te ontwikkel dat dit later almal se werk sal vergemaklik.

Hulle kon net sowel sommiges toelaat om te spesialiseer in die geneeskunde, in gebed of in die skryf van liedjies. Dit is waar dat hierdie dinge nie die surplus vermeerder het nie, maar dit het die lewe vir almal meer aangenaam en verrykend gemaak. Op hierdie manier het vooruitgang stadig maar seker sy verskyning gemaak. Juweliersware is vervaardig; skilderye is geverf en standbeelde is uitgekerf. Liedjies en stories is geskryf; klere het mooier geword en die danse meer ingewikkeld. Dit was 'n vredevolle lewe.

In ander gebiede het die jagters troppe wild met hoewe gevolg. Wildsbokke, herte, skape en boerbokke het op die vlaktes gewei in die winter en op die hooglande in die somer. Die jagters het hulle agtervolg soos wat hulle rondgetrek het. Op die vlaktes het hulle dadels gevind, op die hange akkers, amandels en pimperneute. Tussen die heuwels het hulle appels en pere gekry. Wilde graan het teen verskillende gradiënte ryp geword in verskillende seisoene. Hoe vaardiger die mense geword het met jag, hoe meer kieskeurig kon hulle word oor die diere wat hulle as prooi verkies het. Toe hulle nog hoofsaaklik jong bokke en ramme gejag het en die vroulike diere oorgesien het, was die troppe beter in staat gewees om weer aan te vul. Die jagters het bere, wolwe en jakkalse doodgemaak, sodat hulle nie die troppe sou uitroei in hierdie tyd nie. Hulle het die troppe aangejaag na gebiede toe waar hulle beter beskerm kon word. Skape en boerbokke was nie so skugter gewees soos wildsbokke en herte nie, en dit was vir hulle makliker gewees om gewoond te raak aan die konstante teenwoordigheid van mense. Daarom het die jagters verkies om hulle te agtervolg. So het die jagters later skaapwagters geword. Die lewe van die herdersvolk was nogsteeds baie dieselfde gewees as die vroeëre lewe van die jagters. Hulle het nogsteeds deur hulle weivelde beweeg in die loop van die jaar en hulle het natuurlik nogsteeds diere gejag wat nie makgemaak wou word nie. Aangesien jag 'n man se werk was, het die mans die troppe as hulle eiendom beskou en so het dit dan gebeur dat iets wat 'n manlike Nin gesê het belangriker was as dit wat 'n vrou gesê het.

Skaapwagters en boere het uiteraard redelik gou mekaar se paaie gekruis. Almal het iets gehad wat die ander een kon gebruik. Die skaapwagters kon graan en brood by die boere kry en potte wat van klei gemaak is en nog ander dinge ook. In ruil daarvoor het die boere vleis gekry, leer, wilde vrugte en neute. Maar een dag het 'n skaapwagter-kaptein, wat ook 'n bekende jagter was, agtergekom dat dit ook moontlik was om van die boere te neem wat hy wou gehad het, sonder om vir hulle iets in ruil daarvoor aan te bied. Die boere, wat nie meer gewoond daaraan was om te jag nie, was nie baie goeie bakleiers gewees nie. Die skaapwagters het nogsteeds baie na aan die jagters-manier van lewe geleef. Vir hulle was die boere maar net 'n nuwe soort wild gewees. So het hulle dan daaraan gewoond geraak om die boere gereeld aan te val en te beroof.

Moet egter nie dink dat hulle sommer net skielik verander het in slegte Nin nie. Hulle het maar net hulle aangeleerde manier van lewe voortgesit en toegepas op 'n nuwe soort prooi: die boere met hulle beeste en graanstore. Onder mekaar was hulle nog net so vriendelik en behulpsaam gewees as vantevore. Hulle het hulle vangs gedeel, hulle sake gesamentlik geskik en het hulle kinders goed behandel. Hulle was jagters, nie soldate nie, maar nogsteeds was hulle die oorsaak van wojna in die wêreld.

Hoekom was dit vir hulle moontlik gewees om voort te gaan om die boere se dorpies aan te val en te beroof? Omdat die boere eenvoudig net daartoe in staat was om meer kos te vervaardig as wat hulleself nodig gehad het. As die jagters nie die skure heeltemal leeg gestroop het nie, as hulle nie al die skape en varke saam met hulle gevat het nie, as hulle nie die lande aan die brand gesteek het nie, dan was dit vir die boere op een of ander manier moontlik gewees om uit te hou tot die volgende oes toe. En dan was daar weer iets gewees wat die jagters kon gaan steel het. Mettertyd het die jagters selfs kontrakte met die boere aangegaan: as die boere vrywilliglik vir hulle graan en vleis sou gee - dit het bekend gestaan as 'n "eerbewys" - dan sou hulle hulle nie meer aanval nie, maar hulle eerder beskerm. So het die jagters regeerders en soldate geword, en die boere werkers. En nou het iets eienaardigs gebeur. Alhoewel die regeerders en die soldate nie 'n dag se werk gedoen het nie en daarby 'n redelike groot deel van wat die boere vervaardig het, vermors het, was daar 'n groter surplus vir die hele gemeenskap gewees as waaraan die boere gewoond was om te hê toe hulle nog vry was. Die boere het nou minder vir hulleself gehou van dit wat hulle vervaardig het, terwyl hulle selfs meer vervaardig het as vantevore. Voorheen, toe hulle nog vry was om self te kon besluit oor hoe hulle hulle tyd wou spandeer, het hulle natuurlik nie dit bereik wat 'n Nin in staat was om te kon bereik nie en is hulle nie tevrede gestel met die mees basiese dinge wat 'n Nin nodig gehad het nie. Watter vrye Nin, wat by sy volle positiewe was, sou dit gedoen het? Maar dit was presies wat hulle regeerders hulle nou gedwing het om te doen: hulle moes so hard as moontlik werk en tevrede wees met slegs die heel noodsaaklikste dinge. En omdat hierdie soldate-boere-gemeenskap 'n groter surplus vervaardig het as enige ander gemeenskap, kon meer besproeiingskanale daar gebou word, meer gereedskap kon gemaak word en meer dinge kon uitgevind word as in ander plekke. Meer wapens en beter versterkings kon vervaardig en opgerig word, meer tempels kon gebou word en meer priesters kon van voedsel voorsien word as in ander plekke. Kortliks gestel: so 'n gemeenskap was verhewe bo enige ander; dit kon vinniger groei en dit kon ander gemeenskappe oorwin en hulle forseer om dieselfde lewensstyl aan te neem.

Die ou jagterstamme wou nooit die grootte van hulle jagvelde uitgebrei het nie. Hulle sou dit nie behoorlik kon benut het nie. Die boere het ook geen begeerte gehad om hulle lande groter te maak nie. Hulle sou dit nie kon bewerk het nie. Maar die nuwe regeerders het begeer om meer en meer dorpies aan hulle gesag te onderwerp.  Hoe meer dorpies hulle kon domineer, hoe meer eerbewyse kon hulle insamel. En hoe meer eerbewyse hulle ontvang het, hoe meer kon hulle daarvan aanwend vir verbeterings wat hulle nog sterker kon maak. Spoedig was daar soldaat- en boeregemeenskappe op ander plekke gewees waarvoor hulle versigtig moes wees. En so het oorlog 'n gereelde instelling geword, selfs 'n gewoonte.

Kom ons maak nou 'n opsomming van hierdie treurige verhaal. Met tye en op plekke wanneer die Nin in vryheid gelewe het, het hulle die tyd wat oorgebly het nadat hulle gewerk het, gespandeer op dinge wat die lewe vir hulle meer aangenaam gemaak het: vir musiek en dans, vir storie-vertellery, vir die maak van juwele, vir die maak van mooier klere of vir die verf van hulle liggame. Waar Nin deur soldate gedomineer is, is hulle geforseer om so veel as moontlik voedsel te produseer sodat ander op hulle beurt metale kon verkry, wapens kon vervaardig, beskermende mure en kastele kon bou, allerhande soort dinge wat eintlik baie pyn en lyding vir die Nin veroorsaak het.

Maar snaaks genoeg, in die soldate-lande was daar ook meer mooi klere, meer kosbare juwele, indrukwekkender standbeelde en beter musiek. Hoe is dit moontlik? Omdat al hierdie dinge eintlik net vir die regeerders bedoel was. Hulle het die beste kunstenaars in hulle paleise ontvang en hulle van goeie kos voorsien, sowel as van pragtige huise en klere, sodat hulle die hele dag net daaraan kon spandeer om hulle kuns te ontwikkel. Maar vir die eenvoudige Nin was daar geen kunsvorme nie. Die vrye Nin het musikante en juweliers in elke dorpie gehad, maar hulle was terselfdertyd ook boere gewees en het dus nie veel tyd gehad om hulle vaardighede te slyp nie. Die gevolg was dat die soldate-mense gewoonlik ryker was as die vrye Nin-mense, maar dit was slegs omdat die meese mense wat tot die Nin behoort het in armoede en onkunde geleef het en dit daarom slegs die regeerder en sy soldate was wat toegang gehad het tot rykdom. Dit is hoekom die soldate sterker was as die vrylewende Nin en hulle daarom altyd kon oorwin.

So het Yer dan 'n wêreld geword wat gekenmerk is deur bakleiery, diefstal en onderdrukking. Die lewensstyl wat die meeste pret belowe het, was nie die lewensstyl wat op die ou end geseëvier het nie. Dit was eeerder die lewensstyl wat tot die grootste surplus gelei het en wat snelle vooruitgang moontlik gemaak het. Waartoe dit gelei het sal kortliks bespreek word deur 'n gebied wat bekend gestaan het as die Romeinse Ryk as voorbeeld te gebruik:

Die soldaat-prinse het gou agtergekom dat hulle nog ryker kon word indien hulle die oorwonne vyande hulle slawe sou maak. Slawe het absoluut geen regte meer gehad nie. Hulle moes soos diere gewerk het en is meer as een keer slegter behandel as diere. Dit is waar dat 'n slaaf net werk wanneer hy of sy daartoe gedwing word. Dit is ook waar dat 'n slaaf, wat nie eers so goed soos 'n dier behandel is nie, nie baie lank gelewe het nie. Maar dit het nie saakgemaak nie. Nuwe oorloë kan gevoer word en nuwe slawe kan gevange geneem word. In Rome het dit gebeur dat geen vrylewende Romein meer bereid was om te werk nie. Werk was iets wat slawe gedoen het. Die Romeinse Ryk was voortdurend besig om oorlog te voer ten einde meer slawe te bekom wat al die werk sou doen en sodoende die Ryk sou versterk. Al die vrylewende Romeine was óf  soldate gewees, óf werklose rondleêrs, behalwe vir die paar mense wat beamptes van die keiser was of wat grond- en slawe-eienaars was. Die Romeinse Ryk was voortdurend besig om oorloë te voer en het mettertyd groter en groter geword. Dit het die wêreld regeer. Maar op 'n dag het dit ineengestort. Dit het so groot geword dat daar nie meer genoeg Romeinse soldate was om die uitgestrekte grense te verdedig en terselfdertyd 'n ogie te hou oor die slawe in die hele land nie. Die tyd het aangebreek waar oorlog nie meer 'n land sterker gemaak het nie, maar dit eerder so verswak het dat dit tot niet gegaan het.

Ander ryke het dit vervang. Nuwe sosiale lewenswyses het onstaan. Maar een ding het dieselfde gebly: die sosiale lewenswyses wat die mense die meeste genot verskaf het, was nie die lewenswyses wat bly voortbestaan het nie; dit was eerder die sosiale lewenswyses wat aanleiding gegee het tot die grootste surplusse. Daardie ryke of state wat die grootste surplusse bereik het, kon altyd die ander aan hulle gesag onderwerp en hulle manier van lewe op ander afgedwing het. Hierdie feit het nog nooit verander nie en dit is hoekom wojna, tot vandag toe nog, nie uit die lewens van die Nin verdwyn het nie. Tot vandag toe wend hulle die grootste deel van hulle surplusse aan vir die vervaardiging van nuwe en beter wapens. Vandag het hulle wapens waarmee hulle alle lewe op die planeet kan uitroei. Dit is waarom hulle 'n ernstige bedreiging geword het vir die hele Yer-planeet.

Eers wanneer die Nin die dag sal verstaan dat wojna en onderdrukking net oënskynlike rykdom skep, sal hulle 'n nuwe sosiale lewenswyse ontdek. Maar om dit te kan doen moet hulle begryp dat ware rykdom nie uit 'n oorvloed van besittings bestaan waarmee hulle weer so veel as moontlik ander dinge kan vervaardig, ensovoorts, nie. Vir die inwoners van hierdie planeet sal ware rykdom heelwaarskynlik ook gevind kan word in 'n wêreld waar soveel as moontlik van die Nin in staat gestel kon word om soveel tyd as moontlik beskikbaar te hê vir musiek, dans, met mekaar gesels, speel, gedigte skryf, skilder, stories vertel, aan sport deelneem. Met ander woorde, om die lewe mooier te maak. Andersins kan wojna hulle hele planeet verwoes net soos wat dit eens op 'n tyd met die Romeinse Ryk gebeur het.

Dit is egter, in elk geval, heeltemal buite die kwessie - in ons navorsingspan se opinie - om die Nin toe te laat tot die gemeenskap van die Verenigde Sterrestelsels, voordat hulle nie eers die mees basiese en eenvoudige reëls verstaan van hoe om in groot groepe saam te lewe nie.

Eerlike Woorde uit die mond van 'n Europeër

Vertaling deur Santa Botha

Nou sal ek graag baie eerlik oor iets wil praat. Veral noudat daar so baie is wat draaie loop, nou dat niemand meer sê wat hy regtig dink nie omdat dit "nie goeie maniere is nie," omdat dit nie die gewoonte is nie, omdat dit herinneringe oproep wat liewer laat staan moes word. Presies om hierdie rede het dit nou nodig geword dat iemand baie eerlik en reguit praat oor dinge wat ons almal raak.

Natuurlik is uitlanders, selfs daardie in die Suide en in die Ooste, ook mense. Niemand stry daarmee nie. Natuurlik het hulle ook oë, 'n mond en 'n neus net soos wat ons het. Hulle ervaar liefde en vrees net soos ons; hulle is begaafd of onnosel soos ons, en so voorts en so aan. Natuurlik is daar tussen hulle, net soos wat daar tussen ons ook is, ordentlike en ongeskikte mense. Selfs al word hulle opgevoed onder beskaafde omstandighede, is hulle nie minder geneig tot misdaad toe as ons nie. Maar dit is nie waaroor dit alles gaan nie. Waaroor dit wel gaan is dit: ons moet ons kultuur verdedig; en ons moet ons welstand verdedig, waarsonder hierdie kultuur nie sal kan voortbestaan nie.Die feit is dat ons hier in een van die rykste lande in die wêreld lewe. (En dit geld vir almal wat hierdie woorde kan lees, vir Duitsers net so veel as vir die Switsers en die Oostenrykers.) Hier het ons voorspoed en 'n veilige sosiale struktuur waarvan die Grieke en die Pole maar net kan droom. Ethiopiërs en Kolombiane kan dit nie eers vir hulleself voorstel nie. Kom ons bekyk die feite van nader: van al die ses biljoen mense op hierdie aarde, vorm slegs een biljoen daarvan deel van die "industriële nasies". Heel toevallig behoort ons tot hierdie nasies.

Aan ons, die ryk sesde deel van die mensdom, behoort vier-vyfdes van die aarde se skatte! Ons verbruik 70% van die energie, 60% van die voedsel en 85% van die hout op hierdie aarde. Wat sou gebeur as die ander skielik nadergestaan en hulle regmatige deel opgeëis het? Tans is hulle maar net een of een en 'n half miljoen mistroostige siele wat by ons kom toevlug neem, teen politieke vervolging, om weg te kom van 'n oorlog of van hongersnood af. Ag, nou ja. Afgesien hiervan is daar verder nie net miljoene nie, maar 'n hele paar biljoen armsalige mense wat ons ons voorspoed geweldig beny! Ons, die rykste sesde, het sestig keer meer as die armste sesde. Jy moet hierdie gedagte baie diep laat insink sonder om 'n valse skuldgevoel daaroor te koester. 'n Duitser verbruik dieselfde hoeveelheid brandstof-olie as tien swart Afrikane. 'n Duitser stel dieselfde hoeveelheid  CO2 vry as 65 swartes. In ons deel van die wêreld is daar een motor beskikbaar vir elke tweede inwoner, kinders ingesluit. In Indië is daar een motor beskikbaar vir elke 455 mense. Kom ons wees eerlik, as hulle almal soos ons wou geleef het, kon ons maar die planeet toegemaak het! Daar is net nie genoeg olie in die wêreld vir die swartes en die Chinese om ook motors te bestuur nie. Dit is feite!

Enigiemand wat daarvan hou om oor regverdigheid te praat terwyl hy besig is om 'n koppie koffie te drink, moet net vir 'n oomblik gaan stilstaan en dink oor hoeveel hy vir daardie koffie betaal. Tien jaar gelede het die swartes daaronder of die Indiane van Suid-Amerika iets soortgelyks aan 'n lokomotief van ons af gekry in ruil vir 13,000 sakke koffie. As hulle vandag 'n lokomotief wil koop, sal hulle 45,000 sakke by ons moet aflewer. Jy kan nie sê dat dit sleg is vir ons nie. Niemand van ons wil sonder ons goedkoop koffie klaarkom nie. Hoe baie van diegene wat daarvan hou om oor regverdigheid te praat, koop nie uit vrye wil baie duur koffie by die Derde Wêreld-winkel nie? Wie vra ooit, wanneer hy 'n goedkoop Indiese kantoenhemp of sy 'n mooi sy-serp koop, of dit maar net so goedkoop is omdat dit 'n produk van kinderarbeid is? Nee, liefdadigheid begin tuis. Ons almal dink eerste aan ons eie toekoms en aan die van ons familie. Dis maar net natuurlik. Die Indiërs of die Chinese sou gladnie anders opgetree het as hulle die voorste nasies in die wêreld was nie.

Ons moet onsself nie om die bos lei nie: ons hele wêreldorde word in stand gehou  deur die oppergesag van die wittes. Waar is die industriële nasies geleë? In Noord-Amerika, in Europa, in Australië, Suid-Afrika, Japan. Mens kan nie eers meer vir Rusland hierby insluit nie. Al hierdie lande bestaan hoofsaaklik uit wit mense, met uitsondering van die Japanese.

Al die industriële nasies aanvaar dit absoluut as vanselfsprekend dat hulle alles in hulle vermoë moet doen om hulle oppergesag in die wêreld moet beskerm, hoofsaaklik by wyse van politieke en ekonomiese metodes wat deesdae gevolg word. Ons beskerm nie net ons grense teen vlugtelinge uit die arm lande nie. Ons beskerm ook ons markte teen hulle produkte. Ons vorder byvoorbeeld nie naastenby so baie belasting in op suiwer katoen as op vervaardigde tekstielware nie. Ons laat hulle toe om kakao aan ons te lewer, maar nooit die voorbereide sjokolade nie. Dit is tog duidelik dat ons ons tekstielware en ons sjokolade-fabrieke moet beskerm teen die kompetisie. In der waarheid kan ons dit nie bekostig om enige belang daarby te hê dat daardie lande daaronder hulle eie industrieë oprig en begin "ontwikkel" nie. Ons wil tog voortgaan daarmee om ons industriële produkte teen 'n hoë prys aan hulle te verkoop, terwyl ons weer die goedkoop, rou materiale by hulle koop.

Maar sal ekonomiese en politieke metodes - soos byvoorbeeld, Europese eenheid - altyd genoeg wees om ons oppergesag in die wêreld te bevestig? Sal dit nie eendag nodig word om militêre stappe te neem nie? Toe die Rooi Ryk ineengestort het, het baie mense vir 'n ruk lank gereageer asof ewigdurende vrede binnekort sou aanbreek. Maar vir die meer verligtes was dit duidelik dat hulle probleme in werklikheid nie soseer uit die Ooste gekom het nie, maar eerder uit die Suide. Sedert die Golf-oorlog het een ding baie duidelik geword: toe Saddam Hussein probeer het om Koeweit op te raap, is hy hardhandig oor die vingers getik deur ons, die ryk vyfde deel. Gelukkig het ons te doene gehad met 'n regte diktator en 'n werklike oortreding van die internasionale wet, sodat niemand op daardie stadium kon sê dat ons nie binne ons regte opgetree het nie. Maar dit was nie net Saddam wat 'n voorsmaak gekry het van wat tegnologies-militêre meerderwaardigheid was nie. Die gebeeldsende oorlog het vir almal in die Suide gewys wie baas is in die wêreld. En Mnr. Milisovic, wat gelukkig ook 'n onbetwisbare diktator en 'n oorlogsmisdadiger was, het ons 'n soortgelyke guns gedoen, in dié mate dat niemand dit gewaag het om 'n vinger na ons toe te wys en ons daarvan aan te kla dat ons deels verantwoordelik was vir die oorlog as gevolg van onaanvaarbare ultimatums wat gestel is, sowel as ander diplomatieke optredes en agterlosigheid nie. Ten opsigte van die laaste analise, was hierdie oorloë nodig gewees vir ons.

Laat ons onsself nie mislei nie! Laat ons onsself nie mislei oor hoe ander ons sien nie: almal van ons kan 'n angelier uit Kolombië in die middel van die winter koop vir 75 sent. Ja, en is daar enigiemand wat dit bevraagteken? Daar vlieg elke dag vliegtuie halfpad om die wêreld net om vir ons vars blomme van die ander kant van die aardbol af te bring! Selfs die keisers van antieke Rome kon nie so 'n luuksheid bekostig nie. Is ons nie die aristokrate van hierdie wêreld nie? Ons sal naïef wees as ons onsself daarvan probeer oortuig dat die ander vyf-sesdes lief is vir ons.

Ons uitnemendheid in die wêreld is natuurlik nie vir almal in 'n gelyke mate tot voordeel nie. Daar is 'n paar wat altyd slegter daarvan afkom; daar is niks wat daaraan gedoen kan word nie. Ons is eenvoudig net 'n meritokrasie. En dit kan vergelyk word met 'n ski-wedloop: as iemand twee-honderde van 'n sekonde stadiger is as iemand anders, is hy nie noodwendig 'n swak skiër as gevolg daarvan nie. Maar net drie mense kan 'n medalje ontvang; dit is die reëls, en die res kry niks.

Natuurlik is ons nie net 'n meritokrasie nie, maar ook 'n welsynstaat. Die armste welsynsgevalle in ons deel van die wêreld het nogsteeds 'n baie beter lewe as die meeste mense in Mosambiek. Maar dit is nie waaroor dit alles gaan nie. Daar is net diegene wat weet dat hulle nooit 'n medalje sal ontvang nie, wat weet dat hulle nooit sal behoort tot die suksesvolles en die beroemdes nie. En hulle is net gefrustreerd. Mens kan niks daaraan doen nie. Ja, dit sou wonderlik gewees het as ons ander waardes belangriker kon gemaak het: vriendelikheid, geesverwantskap, humor of die vermoë om gelukkig te wees en die lewe te geniet. Maar dan sou ons nooit so ryk geword het as wat ons vandag is nie. Mens moet dit kan verstaan. Ons het ons voorspoed te danke aan ons waardesisteem, waarvan sukses heel bo aan die lys is.

En diegene wat tekort skiet, hulle wat hulleself as nutteloos en waardeloos beskou, sal altyd vernederd en kwaad voel. Is hulle dan nie ook wit, Europees, Duitsers, lede van 'n industriële nasie nie? Behoort hulle nie aan die groep wat daarop aanspraak maak dat hulle die sout van die aarde is nie?  Hoekom wil hulle nie daartoe behoort nie? Dit is glad nie verbasend dat hierdie, meestal jong mense, nie kan verstaan hoe ons onsself aan die een kant in 'n baie beperkende mate kan laat lei deur humanistiese oorwegings in ons ekonomiese bedrywighede in die wêreld, terwyl ons aan die ander kant nog steeds humanistiese bystand verleen aan een klein en basies onbelangrike groep mense nie. Hulle redenasie (heeltemal oorvereenvoudig) klink so: as ons onsself voorstel as die heersers oor ander nasies op 'n nasionale en ekonomiese vlak, hoekom kan ons dan nie dieselfde ding doen ten opsigte van die individuele lede van buitelandse groepe, veral in ons eie land nie?

Hulle hou nie rekening met die feit dat 'n sekere hoeveelheid menslikheid nodig is om ons reputasie in die wêreld te handhaaf nie, wat dus uit die aard van die saak ook sal bydra tot ons ekonomiese suksesse. Hulle hou ook nie rekening met die feit dat die koste van hierdie menslikheid (alhoewel ons dit egter geniet om mense daaraan te herinner) in der waarheid nie so hoog is nie. Die Duitse banke alleen verdien vier- tot vyfkeer die bedrag wat deur hulle federale regering gespandeer word op vlugtelinge en asielsoekers, net van die rente wat deur ontwikkelende lande inbetaal word op lenings. In elk geval, hier is daar slegs drie vlugtelinge vir elke 1,000 inwoners, in vergelyking waarmee 'n land soos Malawi 105 vlugtelinge teenoor elke 1,000 inwoners moet hanteer. Gelukkig is 85% van die wêreld se vlugtelinge in elk geval in die Derde Wêreld woonagtig.

Dit mag egter nogsteeds nodig wees om 'n mate van begrip te toon vir hierdie redelik oorywerige, radikale jongmense en om nie sonder meer na hulle te verwys as demoniese regsgesinde ekstremiste en Neo-Nazi's nie. Natuurlik is dit nie nodig om die wonings van asielsoekers aan die brand te steek of om hand uit te ruk oor kleurverskille nie. Dit is primitief en kru. Hierdie verregaande gedrag beskadig ons internasionale betrekkings meer as enigiets anders en het ook 'n direkte invloed op ons uitvoerbelange. Maar agter hierdie onnosele vergrype, wat - en ek herhaal - absoluut afgekeur moet word, is daar ook 'n gevoel, 'n geheel en al realistiese gedagte teenwoordig: dat dit nodig is om 'n beskermende muur op te rig teen die aanslag vanuit die Suide.

Heeltemal reg, vergrype mag nie toegelaat word nie. Orde moet gehandhaaf word. Aan die ander kant moet ons toegee dat die basiese veronderstelling wat deur hierdie vergrype uitgespreek word, definitief 'n gesonde een is en ook 'n heeltemal logiese gevolg is ten opsigte van ons posisie in die wêreld as 'n politieke en ekonomiese krag. En moontlik, ja heel waarskynlik, sal ons eendag hierdie basiese houding nog meer nodig kry as vandag: wie sê dat ons nie eendag ook al ons prestasies en ons posisie in die wêreld met militêre optredes sal moet verdedig nie? As dit eendag daarop neerkom dat ons ons kultuur, ons waardes en laaste maar nie die minste nie ook ons welvaart en ons uitnemendheid  in hierdie wêreld tot die bitter einde toe moet verdedig, sal dit slegs moontlik wees as 'n gesonde, sterk "Duitsland eerste", "Oostenryk eerste", of "Europa eerste"-houding stewig vasgelê is as een van die basiese waardes van ons kultuur in die harte en verstande van die mense. Dit moet baie goed verstaan word; ons kan nie toelaat dat ons daardeur mislei word nie!

 'n Europeër

Die Bom

Vertaling deur Santa Botha

In die koffiehuis het mense gesit en gesels oor wat 'n mens moes doen indien 'n kernoorlog sou uitbreek. Mnr. Balaban het gesê, "As hulle die bom laat val, moet jy gaan bad, jouself in 'n wit kledingstuk toedraai en stadig begin aanstap na die begraafplaas toe!"

"Hoekom stadig?"

"Sodat jy nie paniek sal saai nie", het Mnr. Balaban gesê.

Vertaling deur Santa Botha

Die VN se Algemene Raad het die jaar 2000 as die "Kultuur van Vrede"-jaar " geproklameer.  Om daardie rede het ek dan hierdie versameling stories saamgestel.

Vandat ek begin boeke skryf het vir kinders, het ek gevoel dat dit belangrik is om die moeilike onderwerp van oorlog en vrede aan te spreek op 'n manier wat dit vir kinders maklik sou maak om te verstaan. Dit voel net vir my asof dit nie genoeg is om vir kinders te sê dat oorlog aaklig is en dat vrede baie beter is nie. Dit alreeds is 'n stap in die regte rigting, natuurlik, as 'n mens daaraan dink dat daar vroeër van tyd jeugliteratuur bestaan het wat militêre- en oorlogvoerende optredes absoluut opgehemel het. Maar meeste van die kinders vandag weet dat oorlog iets verskrikliks is en dat vrede baie lekkerder is. Maar is vrede moontlik? Of is oorlog 'n onvermydelike bestemming wat die mensdom voortdurend teister? Leer ons nie in die geskiedenisklas, sowel as tydens die nuusberigte saans, dat oorlog nog altyd 'n deel van ons bestaan was oral in die wêreld en dat dit nog steeds met ons is nie? 'n Kultuur van vrede, begrip vir mekaar, vredevolle oplossing van konflikte - dit alles is baie goed en wel: maar wat moet mens maak as die ander nie wil saamspeel nie?

Ek het geen idee oor hoe ons te werk kan gaan om oorlog uit die mensdom se lewens te verban, as ons nie bereid is om te gaan soek na die oorsake daarvan nie. Slegs wanneer die oorsaak van 'n siekte ontdek is, kan 'n gekonsentreerde en effektiewe metode uitgewerk word om dit te beveg.

Dit is waar dat ek al my geskiedenisklasse op universiteit gebank het, maar tuis het ek op my eie hierdie geskiedkundige studies voortgesit tot vandag toe, omdat ek as 'n skrywer natuurlik daartoe geneig is om te wonder oor die dinge wat mense se optredes en gedagtes bepaal. Maar natuurlik kan ek nie daarop aanspraak maak dat ek die steen van die wyses  ontdek het of dat ek in my stories al die oorsake vir oorlogvoering kan verduidelik nie. Daarom kan ek ook nie 'n volledige resep aanbied oor hoe om toekomstige oorloë te voorkom nie. Maar ek wil hê dat die stories meer vir mense moet beteken as slegs "iets om aan te herkou". Skrywers probeer altyd om vir mense iets te gee waaroor hulle kan gaan nadink, tot op 'n sekere punt, waar iemand self die dinkwerk sal moet begin doen.  Die stories wat ek hier ingesluit het is bedoel om aan 'n persoon 'n idee te gee van die rigting waarin hy kan dink; dit is veronderstel om 'n gevoel oor te dra van waar en hoe om te gaan soek na die redes vir oorlogvoering.

Dalk kan die bedoeling van die boek beter oorgedra word aan die hand van die volgende: Ek probeer 'n aanduiding gee van hoe nou ons optredes met mekaar verweef is, op so 'n manier dat diegene wat nie hulle uiterste bes probeer om hulle eie belang te bevorder nie, tot niet moet gaan. Maar dat ons, aan die ander kant, in die proses om ons eie belange te probeer bevorder, dalk onbewustelik die verlies vermeerder of die skade vir ons almal vererger. En dat ons nie van hierdie dilemma kan ontsnap nie, behalwe as ons met mekaar kommunikeer en ons ons optredes met mekaar koördineer. Hierdie boodskap is eenvoudig genoeg, maar die moeilike ding om te doen is om regtig deur die ingewikkelde maniere te sien waarop die optredes van individue, groepe, nasies en state op hierdie planeet met mekaar verweef is.

Ek probeer om vir kinders te leer om daardie soort sosiale meganisme te begin uitken, en ek besef dat dit 'n ongewoon nuwe benadering is tot die kinderliteratuur.

Die Dromer het begin vorm aanneem tydens 'n weeklange werkswinkel wat deur die kulturele inisiatief van "Fireworks" in die Oetz-vallei in Tirole georganiseer is. Die tema was "So vry soos die Wind en die Wolke". Daar het ek en die kinders 'n "Wind en Wolke"-boek geskryf.

Ek het Die Blou Seuntjie geskryf vir die TV-kinderreeks "Siebenstein" wat aangebied is deur die Duitse televisienetwerk ZDF. Ek het dit geskryf kort nadat die muur tussen Oos- en Wes-Duitsland geval het in 1989, toe die hele wêreld vir 'n kort rukkie meegevoer was deur 'n euforie van vrede. Toe die storie in boekvorm verskyn het, het ons alreeds die Golf-oorlog beleef. Hierdie storie handel oor die verharding van die siel in so 'n mate dat dit vrees kan verwek. Die stelling wat hierdie storie wil maak het niks te doen met die feit dat die seuntjie aan die einde sy geweer weggooi nie, maar wil eerder vra hoekom hy dit weggegooi het. "Wel, jy kan maar net jou geweer weggooi," is nie genoeg nie. Eers moet daar die hoop vir verandering wees.

'n Soortgelyke meganisme is gebruik in Die Planeet van die Wortels. Dit wys hoedat 'n spesifieke sosiale sisteem sy eie dinamika kan ontwikkel, tot so 'n mate dat dit verandering binne die sisteem baie moeilik maak, en dat selfs diegene wat oorspronklik benadeel is deur die sisteem, dit kan begin verdedig.

Die Eienaardige Mense van die Planeet Hortus handel doodeenvoudig oor die kostes verbonde aan oorlogvoering.

Arobanai is 'n weergawe van die lewens van die pigmeë as 'n voorbeeld van die lewensstyl van jagters en insamelaars. Dit is gebaseer op die navorsing wat deur Colin Turnbull gedoen is.

Ster-Slang aan die ander kant, is die verhaal van 'n jong Asteke-soldaat en die geskiedenis van die Asteke Ryk se opkoms.

Hierdie twee verhale stel een van die vredevolste en liefdevolste gemeenskappe wat nog ooit op hierdie planeet woonagtig was teenoor een van die wreedste en die mees oorlogvoerendste gemeenskap. Hulle behoort eintlik saam gelees te word ten einde 'n vergelyking te maak van die verskillende lewensaspekte binne hierdie twee gemeenskappe. Hoe is dit moontlik vir wesens wat tot dieselfde spesie behoort, om so verskillend te wees in hulle gevoelens, gedagtes en optredes?

Verslag aan die Raad van die Verenigde Sterrestelsels is 'n opsomming van al die temas en is dit waarskynlik wat die blou seuntjie ontdek het in al die jare wat hy die blou planeet deur die teleskoop dopgehou het. Dit was tydens dieselfde werkswinkel in die Oetz-vallei wat ek die eerste weergawes van hierdie storie op papier vasgelê het. Die kinders is aangemoedig om my vir stories te vra en een meisie, wat toevallig dieselfde van as ek gehad het en wie se naam Nina was, het vir my 'n notatjie gebring en gesê, "Martin, vertel asseblief vir my hoekom daar oorloë is." Die verhaal is, onder andere, gebaseer op die navorsing van Lewis Mumford (The Myth of the Machine), maar natuurlik ook op my eie oordenkinge.

Ek het altyd gedink dat daar 'n tyd moes gewees het wat die mensdom nie geweet het wat oorlog is nie. Nadat ek Jane Goodall se weergawe gelees het van 'n oorlog tussen sjimpansees, moes ek my opinie drasties verander. Selfs in die tyd van die jagters en insamelaars kon dit gebeur dat, terwyl een groep nuwe jaggebiede moes gaan opsoek het, hulle in die proses ook deur 'n ander groep gekonfronteer is. Maar die oorlog was gewoonlik verby, sodra die ander groep verdyf is. Oorloë kon plaasvind, maar hulle het nie 'n integrale deel uitgemaak van die kultuur nie. Dit was eers met die aanbreek van landboukundige aktiwiteite soos die verbouing van plante en die versorging van lewende hawe, dat mense in staat was om voorrade te begin stoor en sodoende tyd gehad het om met militêre veldtogte te begin. In die geval van die oorwonnes was hierdie voorrade iets gewees wat gesteel kon word, sonder dat dit noodwendig die lewens bedreig het van diegene wat beroof is. Oorlogvoering het 'n permanente instelling geword omdat dit 'n manier geword het waarvolgens die surplusse van die kleiner groepies mense ingevorder is en dan weer in strategieë belê is wat gewoonlik tot 'n vermeerdering in produktiwiteit gelei het, i.e. in die vervaardiging van nog meer surplusse wat op hulle beurt weer in vooruitgang belê kon word. Hierdie was by verre die meer effektiewe manier van voortbestaan gewees as wat onderhandelings of afsonderlike konfederasies sou gewees het. Die motiewe van die persone in beheer of dié van die soldate was minder belangrik gewees. In die natuur verskyn kenmerke soos horings, byvoorbeeld, as gevolg van toevallige veranderinge. Of die horings gaan bly of verdwyn sou daarvan afhang of dit vir die draer daarvan tot reproduserende voordeel sou wees en of dit 'n las sou wees. 'n Stamkaptein kon 'n oorlog laat ontstaan het as gevolg van 'n gevoel van haat teenoor sy bure, om statutêre redes, om godsdienstige redes, uit pure arrogansie, as gevolg van opgeboude aggressie, as gevolg van seksuele frustrasie, of wat ook al. Maar oorlog kon tot dusver nog as 'n permanente instelling oorleef as gevolg van verskeie faktore: ten eerste, bevorder dit die konsentrasie van mense in groot ryke, wat sodoende die invordering van surplusse moontlik maak. Tweedens, omdat dit baie van hierdie mense ontneem van meer surplusse as wat hulle bereid was om te belê in 'n gemeenskaplike saak of in die toekoms. En ten slotte bly oorlog voortbestaan omdat dit "vooruitgang" bevorder in die vorm van toenemende menslike produktiwiteit. Wat voordelig is vir die gemeenskap, hoef nie noodwendig tot voordeel vir die individu te wees nie. 'n Gemeenskap van 500 vrylewende boere-families sou baie gelukkiger gewees het as wat 'n weermag van 100,000 boere-families onder die heerskappy van 'n oorlogskaptein sou gewees het. Maar slegs die ryk van 'n oorlogskaptein kon 'n hoofstad bekostig met tempels en skole vir priesters waar die beweging van die sterre dopgehou kon word.

Die geweld waartoe mense in staat is, is definitief 'n voorwaarde waarom oorloë in die eerste plek bestaan, maar dit is nie die oorsaak nie. Was die jong mans in Oostenryk-Hongarye meer aggressief in 1914 as byvoorbeeld in 1880? Of het die Keiser self meer aggressief geword in sy latere jare? Dit moet dikwels eers gebeur dat mense se gevoelens van aggressie en haat teenoor hulle buurlande opgewek word, voordat hulle gereed sal wees om tot oorlog oor te gaan of om hulle kinders te laat gaan. Dit gebeur egter ook soms dat soldate se aggressie ernstig beteuel moet word. Ten spyte van die feit dat daar aan die een kant mense opgelei word in spesiale taakmagte om as verwoesteraars op te tree, soos byvoorbeeld die "Green Berets" in Vietnam, het 'n moderne weermag meestal mense nodig wat gedissiplineerd is en wat betroubaar kan optree; dit is, mense wat hulleself nie laat beheer deur hulle emosies nie. Die menslike wese se vermoë om koel, objektief en berekend te funksioneer is, miskien, selfs meer gevaarlik as sy vermoë tot aggressie. So belangrik as wat al die opvoedkundige pogings is in die vermindering van aggressie, in die bevordering van begrip vir buitelandse kulture, in die aanleer van die vermoë om persoonlike konflikte op 'n vreedsame manier op te los - kan nie een van hierdie metodes die oorsake van oorlog uitwis nie. Die industriële mark-ekonomie wat huidiglik die sosiale struktuur op ons planeet beheer, stel slegs belang (soos geen sosiale strukture vantevore nie) in toenemende produktiwiteit, waar daar selfs meer goedere vervaardig word wat selfs minder werk vereis, en waar die surplusse onmiddellik weer in die bevordering van toenemende produksie en produktiwiteit belê word. Hierdie gedrag lei nie net slegs daartoe dat ons binnekort die perk sal bereik van wat die planeet op 'n ekologiese vlak kan hanteer nie. Hierin lê ook die wortels vir die ontstaan van nuwe oorloë verskuil. Daar word gesê dat die oorloë van die toekoms gevoer sal word oor 'n steeds toenemende afname in natuurlike hulpbronne, soos byvoorbeeld water. Dit is verstaanbaar. Maar dit is net so verstaanbaar dat toekomstige oorloë gevoer sal word tussen die reuse multi-nasionale ekonomiese konglomerate, en dat dit sal handel oor wie mag wat verkoop aan wie.

Om toekomstige oorloë te vermy, sal ses biljoen - en binnekort sal dit sewe en agt biljoen - mense met mekaar moet saamstem ten opsigte van die oprigting van nuwe ekonomieë en sosiale strukture. Eers wanneer hulle iets van mekaar af weet en optree met die ander in gedagte, kan mense die toenemende skade wat hulle mekaar aandoen deur slegs te wil omsien na hulle eie belange, begin vermy. Om voortdurend die vlak van produktiwiteit te verhoog, kan nie meer langer die einddoel wees nie - om meer goedere te vervaardig met minder moeite; die uitruil van goedere behoort nie die kerninhoud van interpersoonlike verhoudinge te wees nie. Die feit dat goedere vervaardig kan word met al hoe minder moeite, behoort nie te lei tot 'n toename in die vervaardiging daarvan nie. Dit behoort mense eerder in staat te stel om hulle vrye tyd saam te spandeer ten opsigte van: kuns, vermaak, versorging, genesing, opvoeding, navorsing, sport, filosofie...

Select afterword failed: Table 'at27023_peaceculture.Texts' doesn't exist