Die Eienaardige Mense van die Planeet HortusVertaling deur Santa Botha |
|
|
Op die planeet Hortus het daar Appelmense,
Pruimmense, Peermense en Framboosmense gebly. Die Appelmense het gelewe
van appelsap, appeltert, appeljellie en appelkoek. Die Pruimmense het
gelewe van pruimsous, pruimtert, pruimjellie en pruimkoek. Die Peermense
en die Framboosmense het maar min of meer dieselfde goed geëet. Vir 'n rukkie het alles redelik goed gegegaan, tot
op 'n dag wat die Peermense gevoel het dat hulle nou behoorlik genoeg
gehad het van die alewige peerjellie. Dis toe wat een van die Peermense
gesê het: "Weet julle wat? Ons behoort diewe te word!" "Diewe? Wat is dit?" "Dis eenvoudig. Al wat ons moet doen is om die Pruimmense in die nag te bekruip en sodra hulle almal aan die slaap is, moet ons hulle oorval en opdons. Dan vat ons vir ons soveel pruime as wat ons kan dra en hardloop daarmee weg. Dan kan ons uiteindelik ook van die pruimsous, pruimtert, pruimjellie en pruimkoek eet." "Hoera! Dit klink na pret!" Hulle het toe een aand die Pruimmense bekruip en toe hulle almal aan die slaap was, het die Peermense op die dorpie afgestorm, by die huise ingebreek en al die Pruimmense aangerand. Toe het hulle soveel van die pruime gevat as wat hulle kon dra en daarmee weggehardloop. Die Pruimmense was vreesbevange en baie hartseer. "Wat was dit? Dit het nog nooit vantevore gebeur nie. Dalk het die Peermense mal geword. Ons moet vir Mev.Pruimstam na hulle toe stuur!" Sien, Mev.Pruimstam kon salf maak van pruimpitte wat
enige siekte kon genees, behalwe gebreekte bene. Op 'n dag het sy toe
vertrek met haar pot vol pruimpitsalf. Teen die aand se kant het sy egter
weer teruggekeer. "Hulle wil nie gesondgemaak word nie," het sy gesê. "Hulle het gedreig om my te slaan en het my toe weggejaag." "Dis baie slegte nuus! Wat gaan ons nou doen?" "As hulle nie gesondgemaak wil word nie, is hulle nie siek nie, maar net sleg. Ons moet hulle straf!" "Ja, dis wat ons sal doen! Ons sal op hulle afpeil
en hulle pere vat. Dis net regverdig!" Almal het gejuig en onbeheersd geskreeu, maar net
Mev.Pruimstam het bekommerd gelyk en haar kop geskud. So het die Pruimmense dan op die oorlogspad gegaan en
daardie nag die Peermense aangeval en geslaan. Toe het húlle weer so baie
pere gevat as wat húlle kon dra en daarmee weggehardloop. "Wat gaan julle doen as die Peermense terugkom en
ons môre weer aanval?" het Mev.Pruimstam gevra. Almal het baie
bekommerd gelyk, maar die jong Mnr. Pit het gesê: "Ons sal net wagte
rondom die dorpie plaas en as hulle dan hier aankom, sal ons hulle
afransel." En dis toe ook net wat hulle gedoen het. Toe die
Peermense 'n paar aande later weer daar aankom, het hulle 'n
afskuwelike afranseling gekry. "Wel, wat het ek gesê! Hierdie keer het hulle
regtig 'n groot loesing gekry! Hulle sal dit nie waag om ons gou weer te
oorval nie." "Alles goed en wel, maar weet jy wat? Ons het elke
aand vir die laaste twee weke waggestaan en dan die hele dag lank geslaap.
Intussen het ons al ons pruimkoek en pruimjellie opgeëet en gladnie tyd
gehad om weer enigiets te kook of te bak nie!" "Maar dan moet almal van julle vir julle ouens iets
gee om te eet, aangesien hulle waggestaan het om ons almal te
beveilig!" So het al die Pruimmense toe vir die wagte iets te
ete gegee, waarvan Mnr.Pit die meeste gekry het. "Omdat ek vir alles
moet sorg! Ek dra die verantwoordelikheid!" Na 'n ruk het party van die Pruimmense begin brom.
Voorheen was daar altyd net genoeg vir almal, maar noudat die jong manne
begin wagstaan het in plaas daarvan om die pruimbome te versorg en om om
te sien na die kook- en bakwerk, was daar nie meer genoeg vir almal nie. "Goed," het Mnr.Pit gesê, "wie se skuld is dit
dat ons jong manne nie meer kan werk nie, maar eerder moet wagstaan? Die
Peermense s'n! So, die Peermense moet gestraf word daarvoor!" Saam met sy manne het hy toe afgemarsjeer na die
Peermense se dorpie toe, om hulle weer te gaan beroof. Maar die Peermense
het ook wagte gehad en daar het toe 'n hewige geveg plaasgevind, halfpad
tussen die twee dorpies. Die Pruimmense kon toe nie die pere in die hande
kry nie. Toe het Mnr.Pit gesê: "Ons moet nette
aanmekaarweef en dit oor die Peermense se wagte gooi. Dan sal ons hulle
kan oorwin en die dorpie beroof!" Toe moes al die Pruimmense nette weef en hierdie keer
was die rooftog suksesvol. Baie trots het Mnr.Pit die soldate terug
huistoe gelei, elkeen met 'n sak vol pere oor sy skouers. Mnr.Pit het
ook iets gedra: verantwoordelikheid. In die middel van die dorpie het Mnr.Pit vir almal
gevra om hulle pere op 'n groot hoop te gooi. Daarna het hy die hoop
verdeel in drie kleiner hopies. "Op hierdie manier," het hy gesê:
"word een hoop verdeel tussen al die inwoners, sodat almal genoeg het om
te eet. Die tweede hoop sal verdeel word tussen my soldate omdat hulle so
dapper geveg het. Die derde hoop is myne omdat ek die verantwoordelikheid
vir alles gedra het." Almal was oorstelp van vreugde en het Mnr.Pit
op die skouer getik. Net ou Mev.Pruimstam het bekommerd gelyk, haar kop
geskud en gesê: "En wat gaan julle maak as die Peermense ook nette
weef?" "Ek weet! Ons bou 'n muur rondom die dorpie,
sodat hulle ons nooit weer kan oorval nie." En so moes die Pruimmense toe 'n muur rondom die
dorpie bou. Maar die Peermense was nie daarmee tevrede gewees om
met die skande van hulle nederlaag saam te leef nie. En toe hulle
verkenners rapporteer dat die Pruimmense besig was om 'n muur om hulle
dorpie te bou, het hulle ook 'n muur rondom hulle eie dorpie gebou. En
hulle het nette geweef om die soldate mee te vang. Hulle het ook vir
hulleself lere gemaak waarmee hulle oor die Pruimmense se mure kon klim.
Een nag het hulle toe, met hulle lere, die Pruimmense se dorpie ingeval en
hulle beroof van alles wat hulle gehad het. "Dis nou genoeg! Ons sal vir hierdie sagte pere
'n les moet leer waarvan hulle nooit sal herstel nie." Mnr.Pit het toe
die Pruimmense aangesê om 'n groot toring op wiele op te rig. Hy was
van plan om dit tot teenaan die mure van die Peermense se dorpie te stoot,
en om dan balle van vuur op die Peermense se huise te gooi. Maar, in die
tussentyd het die Peermense 'n yslike katapult gebou wat hulle sou
gebruik om die Pruimmense se dorpsmuur mee te verwoes. Een nag het die Pruimmense se weermag toe die
Peermense se dorpie bekruip, terwyl die Peermense se weermag besig was om
die Pruimmense se dorpie te bekruip. En omdat die aand donker en mistig
was, het die verskeie weermagte bymekaar verbygeloop sonder dat hulle dit
opgemerk het. Nadat die Pruimmense hulle toring voor die Peermense se
dorpsmuur opgerig het, het Mnr.Pit bo-op geklim en geskreeu: "Maak
hierdie hekke oop en gee julleself oor, of anders steek ons hierdie hele
dorp aan die brand!" En omdat die Peermense se weermag nie daar was nie,
het die dorpie se inwoners die hekke oopgemaak en die Pruimmense
binnegelaat. En toe die Peermense hulle katapult tot teen die
dorpsmuur van die Pruimdorpie gestoot het, het hulle leier op 'n stukkie
papier geskryf: "Gee oor of julle hele dorp sal vol lood gepomp word!"
Hy het die notatjie om 'n klip gevou en oor die muur gegooi. Toe het die
Pruimmense ook hulle hekke oopgemaak en die Peermense binnegelaat. Maar toe die verskeie weermagte die dorpies wou
plunder, was daar skaars enigiets oor om te vat. Net 'n paar potte
peerjellie of pruimjellie, 'n paar droë koeke en 'n bietjie
oorskiet-tert, maar selfs dit was al besig om te muf. "Daar is niks oor nie," het die Peermense vir die
Pruimsoldate gesê. "Ons het nie tyd gehad om na die bome om te sien
of om koek te bak nie. Die oorlog het al ons beskikbare tyd in beslag
geneem." "Ons het niks nie," het die Pruimmense vir die
Peersoldate gesê. "Ons het nie tyd gehad om te kook of om na die bome
om te sien nie. Die oorlog het al ons beskikbare tyd in beslag geneem." "Rotte!" het die leier van die Peersoldate gesê
en weer omgedraai. "Verdomp!" het Mnr.Pit gesê en sy weermag weer
weggelei. Teen dagbreek het die verskeie weermagte mekaar
halfpad tussen die twee dorpies ontmoet en omdat hulle so kwaad was, het
hulle mekaar begin slaan. Maar die twee veldmaarskalke het nie deelgeneem
aan die geveg nie. Elkeen het op 'n klein heuweltjie gestaan, mekaar
vuil kyke gegee en gebroes. Toe hulle gevoel het dat die twee weermagte nou lank
genoeg baklei het, het hulle die bevel gegee om terug te val en het hulle
saam met hulle eie weermag teruggemarsjeer huistoe. Die volgende dag het Mnr.Pit die Pruimmense
bymekaargeroep en gesê: "Nou goed, nou moet ons dadelik aan die werk
spring en vinnig 'n paar pruimkoeke bak. Ons moet vinniger bak as die
vyand, sodat ons voor hulle weer gereed kan wees vir die volgende
geveg!" Maar Mev.Pruimstam het gesê: "Ons kan dit nie doen
nie. Daar is geen pruime meer oor nie, aangesien niemand die bome versorg
het nie. Die pruime het almal op die grond gelê en vrot word. Daar is in
elk geval ook nie meel vir die koeke nie. Ons kan nie langer daarmee
aangaan om dinge op hierdie manier te doen nie. Watter betekenis het dit
om mekaar te beroof? As ons genoeg wil hê om te eet, sal elkeen van ons
bereid moet wees om die hele dag lank baie hard te werk. Ons sal dit moet
doen en die Peermense ook. Diefstal laat nie pruime of pere groei nie. Ons
sal moet vrede maak met die Peermense!" En die Pruimmense, wat graag weer daarmee wou begin
het om die pruimbome te versorg en om terte te maak, het met haar
saamgestem. Die enigste persoon wat baie omgekrap was, was
Mnr.Pit. As daar nie oorlog was nie, kon hy nie bevele uitdeel en die
verantwoordelikheid dra nie en sou daar ook nie enige buit wees waarvan hy
die grootste deel sou kry nie. Hy het na die dorpie van die Framboosmense toe geloop en
vir hulle ges: "Luister, die Peermense het nie meer enigiets oor om te
eet nie. Hulle het alles uitgegee tydens die oorlog. Daar bestaan dus die
gevaar dat die Peermense julle volgende sal beroof!" Die Framboosmense het hulle koppe gekrap en gesê:
"Ons het nog nooit iets aan hulle gedoen nie!" "Dit maak nie saak nie," het Mnr.Pit gesê. "Hulle is diewe en sal enige plek beroof wat hulle kan." "Dis verskriklik!" het die Framboosmense gesê. "Wat moet ons doen? Ons weet niks van oorlogmaak af nie." "Maar ons wel!" het Mnr.Pit gesê. "Ek het 'n voorstel: gee vir ons 'n bietjie van julle frambose, dan sal ons julle beskerm teen die Peermense." "Nou goed," het die Framboosmense gesug. "Ons
het seker nie 'n ander keuse nie." Toe het Mnr.Pit teruggekeer na die Pruimmense se
dorpie toe en vir hulle gesê: "Dis omtrent nog 'n jaar voordat die
volgende pruim-oes inkom! Waarvan het julle gedink om in die tussentyd van
te leef? As ons vrede maak, sal ons vir 'n volle jaar lank honger wees!
Maar as ons saam met die Framboosmense werk om die Peermense te beveg, sal
ons dadelik frambose van hulle af kry." "Ja, dis beter," het die jong manne geskreeu wat al klaar daaraan gewoond was om te baklei. "Ons baklei beter as wat ons pruim-oeste inbring." Die ander Pruimmense het hulle koppe gekrap en gesê: " Om honger te wees vir 'n hele jaar! Wie kan dit uithou?" En toe het hulle ook aangesluit by Mnr.Pit. Net Mev.Pruimstam het bekommerd gelyk en maar net
haar kop geskud. Maar intussen het die Peermense se veldmaarskalk 'n
vriendkap gevorm met die Appelmense. En so het alles maar net weer van
vooraf begin: die Framboos- en Appelmense moes nou ook mure om hulle
dorpies bou, en nette weef, en katapulte en beleërings-torings op wiele
bou. Afgesien van al hierdie dinge moes hulle nog vir hulle beskermers die
helfte van hulle vrugte ook gee. Toe die jaar verby was, was daar op die
hele planeet niks meer oor om te eet of te steel nie. Toe het Mev.Pruimstam al die vrouens op die planeet
bymekaargeroep - dit was moontlik want daar was maar net vier dorpies
- en vir hulle gesê: "Ons kan nie voortgaan om so te lewe nie.
Diefstal en oorloë laat nie pruime, frambose, appels of pere groei nie.
Iemand moet die werk doen anders sal daar nie eers iets wees om te roof
nie. En omdat ons almal gewoonlik net genoeg het as elkeen sy of haar
bydrae lewer, kan ons net eenvoudig nie al hierdie diefstal bekostig nie!
Mens kan nie nette, lere, katapulte, mure of beleërings-torings eet
nie!" "Net so!" het die vrouens beaam. "So, gaan sê vir julle mans dat hulle vir mekaar
die hand moet gee en onmiddellik moet teruggaan na die boorde toe! Anders
sal ons almal binnekort doodgaan van die honger!" "Ons maak so! het die vrouens gesê. So is daar uiteindelik 'n ooreenkoms bereik. Die
mans het almal bladgeskud met mekaar en gemompel: "Ek is baie jammer,
dit sal nie weer gebeur nie." Toe was daar weer vrede op die Planeet
Hortus. Na twee, amper drie jaar, het almal weer genoeg gehad om te eet.
Mev.Pruimstam het geskenkies gemaak van potjies pruimjellie vir die ander
dorpies en die vrouens van die ander dorpies het vir mekaar appelkoek of
peersous of framboostert gestuur. En omdat vrede vir so 'n lang tydperk geduur het,
het die mense nou tyd gehad om 'n bietjie na te dink en om dinge te
ontwerp. Een persoon het 'n spesiale tangetjie ontwerp waarmee mens die
appels van die bome af kon pluk, sonder om in die boom te klim. 'n Ander
persoon het 'n variëteit van framboosbosse ontwikkel wat nie dorings
gehad het nie. Nog 'n ander een het 'n spesiale mes uitgevind om pere
mee af te skil. "Dit is wonderlik," het die vrouens gesê, "nou
hoef ons net 'n halwe dag lank te werk vir ons almal om nogsteeds genoeg
te hê van alles." Maar een dag het Mnr.Pit opgestaan en vir die
Pruimmense gesê: "Wat nou hier aangaan, is gladnie goed nie. Mense lê
vir 'n halwe dag lank en niks doen nie net omdat ons werk makliker
geword het met die uitvinding van die nuwe pruim-ontpitter. Wat gaan ons
maak as die Peermense besluit om ons te oorval en ons dan dwing om die res
van die dag vir hulle te werk? Die Peermense het 'n nuwe peer-afskiller
ontwerp. Dit maak die gevaar soveel groter, want as hulle nie meer nodig
het om die hele dag lank te werk om te sorg dat daar elke dag genoeg kos
is nie, dan sal hulle mos nou oorgenoeg tyd hê om nuwe beleërings-torings
en katapulte te bou! Ons kan dus regtig nie bekostig om 'n halwe dag te
mors met kaartspeletjies en storievertellery nie. Met die nuwe
pruim-ontpitter het ons nou genoeg tyd om te dink aan 'n
verdedigings-strategie. In plaas daarvan om net 'n halwe dag te werk,
sal dit beter wees as net die helfte van ons vir 'n daglank werk. Die
res kan katapulte bou en tyd deurbring in opleidingssessies. Op hierdie
manier sal ons dit kan bekostig om 'n aktiewe weermag te onderhou. Dit
is die enigste manier om onsself te beskerm teen nog 'n aanval van die
Peermense, wat daarop uit is om eendag van ons slawe te maak!" En so sou die hele ding amper weer van vooraf begin
het, as.. ...Mev.Pruimstam nie opgestaan het en vir Mnr.Pit
'n taai klap gegee het waar almal dit kon sien, nie. Toe het hy mooi
rustig gaan sit en nooit weer 'n woord gesê nie. |