Die Planeet van die WortelsVertaling deur Santa Botha |
|
|
Lank gelede het daar op 'n klein planeetjie mense
gebly waarvan party hardwerkend was en ander wat nie so hardwerkend was
nie. Dan was daar ook 'n paar wat besonder hard gewerk het en 'n paar
wat besonder lui was. Om op te som - dit het maar daar gegaan soos op
enige ander plek in die heelal. In hierdie geval egter, het die luies en
die flukses alles waarmee hulle geboer het - hoofsaaklik
verskillende soorte wortels - op 'n hoop gegooi het en alles van die
hoop af met mekaar gedeel. Dit was nie hoe dit op ander plekke gegaan het
nie. Eendag het 'n paar van die flukses gesê: "Ons
het genoeg gehad. Ons swoeg en sweet elke dag, terwyl die ander wat net
die hele dag op hulle rue rondle en vir die son fluit, teen die einde van
die dag doodluiters hier aangewals kom en dan ons wortels wil kom eet. En
in plaas daarvan om hulle wortels ook op die gemeenskaplike hoop te gooi,
bêre hulle dit in hulle huise waar hulle dit verober totdat hulle vet en
ongemaklik is." Die wat regtig baie lui was het maar net hulle skouers opgetrek en voortgegaan om van die groot hoop wortels te eet. Natuurlik het hulle ook meer van die hoop af geëet as wat hulleself daarheen gebring het. Toe het die redelike flukses en die redelike luies agtergekom dat almal nou minder as vantevore gekry het, omdat die mense wat regtig baie hard gewerk het altyd heelwat meer wortels na die hoop toe gebring het as wat hulle self geëet het. Toe het die redelike flukses gesê: "Nou gaan ons
maar ons eie wortels ook hou." Van toe af het hulle dit nie meer
op die groot hoop gegooi nie, maar in plaas daarvan hulle eie klein hopie
begin maak by hulle huise. Die redelike luies het dieselfde ding gedoen.
"Ons het geen ander keuse nie," het hulle vir die mense gesê wat
regtig baie lui was. Nou het almal hulle eie wortelhopies voor hulle huise
gehad. Wanneer hulle soms lus geword het vir 'n spesifieke soort wortel
wat hulle nie in hulle hope gehad het nie, het hulle maar gaan kyk of
hulle met iemand kan gaan uitruil. Mense het vreeslik begin rondskarrel. Na werk het
hulle ure lank wortels uitgeruil totdat hulle al die wortelsoorte in hulle
huise gehad het wat hulle nodig gehad het, of wat hulle gedink het hulle
nodig het. "Dis nou vir jou te sê!" het die mense wat regtig lui was vir mekaar gesê. Daar was nie nou meer vir hulle 'n gemeenskaplike hoop waarop hulle kon teer nie. Elkeen van hulle het egter 'n ander les geleer uit hierdie situasie. Party van hulle het gesê: "Nou maar goed, dan sal ek seker maar 'n bietjie harder moet werk." Dit was egter makliker gesê as gedaan. Elke keer wat hierdie "gewese" lui persoon 'n stukkie grond gevind het om sy of haar wortels op te plant, was daar gewoonlik iemand gewees wat gesê het: "Hei, ek het nog altyd wortels hier geplant. Dis my grond hierdie." |